Hulle sou wat wou gee om net hier aan die Weskus te kom nesskop. Sy en haar gesin bring reeds vier maande

van die jaar hier in die ruim huis op Yzerfontein deur, maar dis net nie naastenby genoeg nie, sê Nianell, sprankelend en ontspanne op die groot rusbank met sy pofkussings.

Die rustigheid op Yzerfontein is ’n welkome kopskoonmaak, vertel die mooi donkerkopvrou met die engelstem wat 38 jaar gelede as Sonia Nel gebore is.

“Hier hoef ons nêrens heen te jaag nie. Ons speel lekker met die kinders en hulle is dol daaroor om oral te kan hardloop. Dis vir my so lekker om hier te gaan stap – ek glo jy kan enige probleem wegstap en enige idee

in jou kop instap.’’

Yzerfontein laat haar dink aan die oop ruimtes van haar geboorteland, Namibië. “Ek is dol oor die ruimte, die

vlaktes. Hier by die see voel ek naby God. Toe ek sewe jaar gelede na die huis kom kyk het, het ek dit dieselfde dag nog gekoop, maak nie saak of ek dit kon bekostig of nie.

“Ons droom is om oor twee of drie jaar permanent hierheen te trek, maar nou is my program nog te druk,’’ vertel die ma van Jade, Tayden en Kaeley, die drieling wat op 30 Julie drie jaar oud word.

Met drie albums wat almal platinumstatus behaal het – Angel Tongue,Who Painted theMoon? en Life’s Gift – wil almal die begaafde sanger sien en hoor. Haar vierde, I Know I’m Lucky, spog ook reeds met goud.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 6 Mei 2010.