Die Afrikaanse sanger Steve Hofmeyr het pas teruggekeer van ’n toer deur die VSA. Een van die plekke wat hom veral beïndruk het, was New York. Hy het vroeër vandag dié inskrywing op die sosiale netwerk Facebook gemaak oor sy ervaring:

Daar is niks wat enigiemand kan skryf oor New York wat nie al gesê is nie. Die Hollanders het Manhattan gekoop vir 60 gulde (of R360), so 25 jaar voor Jan van Riebeeck sy vlaggies aan die Kaap kom plant het. Vandag is dit die aarde se topmetropool.

Daar is niks wat die wêreld New York kan leer van kuns, kultuur argitektuur, rewolusie, onderrig, immigrasie en finansies nie. Geel taxi’s pols dag en nag deur sy are. New York is die grootste hutspot van . . . wel, alles en enigiets. Mense, baie mense, is sy hartklop.

New York trek aandag. Dis sy werk. Sy uithangborde stuur seine aan ander sterrestelsels sou hulle dit naby aan ons waag. Kyk na ons, skree dit. Daarom is kultuur en vermaak vooropgestel. Dit hang soos daktuine teen die mure af, drup soos roomys teen ons arms af - digitale reklame gemeet in vierkante kilometers.

Maar agter die fasade is daar ander redes hoekom die Groot Appel my gunstelingstad is. e.e.cummings het sy gedigte hier geskryf. Neil Diamond het Sweet Caroline hier geskryf. Dis die stad van Maria Callas, Lady Gaga, Tom Cruise en Superman. Die Trumps, Roosevelts, Rockefellas en Fondas. Streisand en Minnelli, De Niro en Pacino. What’s not to like, my man.

Deur alles bly New York die finansiële hartklop van die wêreld. Hy is deur meer depressies en triomfe as Rome. Hy het selfs ’n hartomleiding gehad nadat hy die dodelikste terreuraanval in menseheugenis oorleef het. Drieduisend mense het gesterf toe die World Trade Towers inmekaarstort ná ’n lugaanval in 2001.

Dit alles onder die wakende oog van Lady Liberty.

Ek bly in die pragtige The Lucerne en sing om die draai in die Tolani-kroeg wat deur Stanton du Toit besit word. Die enigste plek met brandewyn en Coke in hierdie staat. Dit was nooit deel van die toer nie. Daarom doen ek dit toe sommer unplugged (soos Nirvana, soos ek gemaak het in die 80’s) en dit is hoe ek dit altyd sou wou doen in Gotham, New Amsterdam, Empire City, The Melting Pot, The Bronx . . . the city that never sleeps. En êrens in sy basement sokkie daar ’n klomp Afrikaners.

Dis is ’n hoogtepunt-einde vir ’n onvergeetlike skof van die wêreldtoer. Opregte dank aan elkeen wat oor enorme afstande kom saamsing het.

Volgende: Innibos in Nelspruit. Dan Nieu-Zeeland en Australië.

[post-slider]