Dis 12 Julie 2008 in die Huis van Pyn, en teen 28-23 en met skaars vyf minute oor lyk dit asof die All Blacks ons weer hier in Dunedin gaan troef.

Maar Ricky Januarie kry die bal uit ’n losgemaal en besef die verantwoordelikheid rus nou vierkant op sy skouers. En hy huiwer nie ... mik buitentoe, binnetoe en skiet verby twee, drie voorspelers.

Nou versper die heelagter Leon MacDonald nog sy pad na ’n ereplek in die annale van Groen-en-Goud. En dan maak Ricky stellig die beste skuif van sy lewe: ’n meesterlike tikskoppie oor MacDonald se kop, waarna hy die bal se verraderlike wip bemeester en oorduik.

Dis die Bokke se eerste oorwinning nog in Dunedin; hul eerste oor die All Blacks in Nieu-Seeland in ’n dekade. Dis ook die soetste oomblik van Ricky se lewe.

Maar skaars twee maande later word hy op die nag van sy rampartytjie deur ’n polisieman voorgekeer. En so begin die dronkbestuursaak wat onlangs eers teruggetrek is ná ’n ooreenkoms oor gemeenskapsdiens; dit ná baie stres wat ook sy rugby in die vorige seisoen geknou het, erken Ricky nou.

Om daardie nag so te gaan ry het, was verkeerd. “Ek’s net bly dis verby en dat ek weer voluit kan konsentreer op die game wat vir my so belangrik is,” sê hy.

Sy vrou, Laken, en kinders, Tatum en Taslynn, is klaarblyklik deel van die nuwe Ricky se prioriteite. En dat hy reeds in ons af seisoen wedstrydfiks gaan raak het in Europa se taai Heineken-klubrugby, spreek van sy erns oor die seisoen vorentoe.

Hy moet nou voor einde Julie 20 uur gemeenskapsdiens doen. Dit sal rugby-afrigting vir jong mense wees.

En oor sy straf in 2008 toe hy vir ’n wedstryd uit die Bok-span gelaat is nadat hy ná ’n kuiery laat na sy hotel teruggekeer het, sê hy: “Ek het my straf daarvoor gevat.’’

Hy is nou vuur en vlam en wil vir eers op speelkans in die Super14 konsentreer.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 18 Februarie.