Volgens die departement van gesondheid het baie verwerkte kosse op die winkelrakke reeds die riglyne vir soutvermindering (wat vir 2016 in plek gestel is) bereik.

Die vermindering van sout in meer produkte sal na verwagting die voorkoms van siekte en die koste van siektebehandeling verminder.

In Maart verlede jaar het die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, sperdatums aan voedselvervaardigers gegee om die hoeveelheid sout te verminder wat hulle in kos gebruik.

Aaron is ’n voorstander van ’n maksimum van 5 g sout per dag. Volgens die departement bevat ’n brood ongeveer 4,8 persent sout. Teen 2016 mag dit nie meer as 4 persent wees nie en teen 2019 nie meer as 3,8 persent nie. As al die departement se doelwitte teen 2019 bereik word, sal ongeveer 3 500 lewens jaarliks gered word en die die departement sal R500 000 in toelae spaar, beweer Sam Mabaso van die Hart- en Beroerte-stigting van Suid-Afrika.

Die vermindering van sout in meer produkte sal na verwagting die voorkoms van siekte en die koste van siektebehandeling verminder.

Hy sê ook 6 500 gevalle van kardiovaskulêre siekte kan voorkom word.

“Soutinname in Suid-Afrika is dubbel die voorgeskrewe hoeveelheid en ons het die hoogste hipertensievlak ter wêreld,” het ’n woordvoerder van die departement van gesondheid, Khutso Rabothata, gesê.

“ ’n Onlangse hersiening van die etikette op sekere kossoorte het bewys daar is by sekere produkte reeds ’n verandering in soutvlakke. Party voldoen reeds aan 2016-doelwitte.”

Een uit drie volwassenes ouer as 15 het hipertensie en daagliks neem Suid-Afrikaners tussen 6 en 11 g sout in deur verwerkte kosse, tuisgemaakte maaltye en sout wat oor kos gegooi word.

Nie die departement of die Hart- en Beroerte-stigting wou die voedselvervaardigers identifiseer wat die sout in hul produkte verminder het nie.

Yoliswa Kula, die bestuurder van sakeontwikkeling by die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing, het gesê: “Daar is een groot maatskappy wat ons genader het (oor die vermindering van sout), maar ons moet dit vertroulik hou. Maar dit beteken nie dat ander maatskappye op hul louere rus nie, want hulle kan dalk met geakkrediteerde laboratoriums werk.”

Kari Naude, ’n dieetkundige by Kelly Lynch-dieetkundiges, het gesê dit is belangrik dat sout nie heeltemal uit die dieet gesny word nie.

“Ons liggaam het sout nodig om spiere, die hart inkluis, te help saamtrek, om ons senuwees impulse te help stuur, om watervlakke in ons liggaam te reguleer en om met vertering en absorpsie te help,” het sy gesê.

Bron: Times LIVE