Haar sesjarige seuntjie, Jacques Esterhuizen, veg al vanaf sy vierde verjaardag teen neuroblastoma – kwaadaardige kankerselle in die senuweestelsel.

[caption id="attachment_119356" align="alignnone" width="600"]ffgg Die sesjarige Jacques veg al vanaf sy vierde verjaarsdag teen meuroblastoma. Foto: Facebook[/caption]

“Hy leef nou al twee jaar en nege maande nadat dit by hom gediagnoseer is en hy net vier maande gegee is om te leef,” vertel sy ma, Lizel Esterhuizen, opgewonde aan Huisgenoot.

“Net met die Here se hulp en gebede sal hy dit finaal oorwin. Hy is ’n supervegter!” verklaar sy op sy Facebook-blad, Gebed vir Jacques.

“Met Jacques gaan dit regtig wonderlik goed. Die dokters is steeds stomgeslaan deur sy herstel sonder intense behandeling. Sy kanker is nie in remissie nie, maar hy is andersins gesond en kry nie sommer maklik verkoue nie.

“Hy is gelukkig en altyd besig en aan die gesels. Gr. 1 is vir hom ’n wonderlike plek. Hy geniet die leer en maatjies vreeslik.”

Dié haasbekkie het in almal se hart gekruip toe hy begin vanjaar met sy skoolloopbaan begin.

Hulle het einde Junie verlede jaar van die Kathu-omgewing in die Kalahari na Potchefstroom in Noordwes getrek om nader aan sy spesialiste in Johannesburg te wees.

[caption id="attachment_119359" align="alignnone" width="600"]ff Jacques saam sy kleiboet, Rian, en sussie, Carika. Foto: Facebook[/caption]

Haar man, Jaco, is ’n netwerk-administrateur in Sandton en pendel heen en weer. Jacques het ’n kleinboet, Rian (3), en sussie, Carika (15 maande).

Neuroblastoma verteenwoordig sowat die helfte van alle gevalle van kanker by baba’s en dit kom by ’n rapsie meer seuntjies as meisies voor. En die meeste van dié gevalle word voor vyf gediagnoseer.

Jacques se kankertelling was aan die begin 1 372. Binne twee maande het dit opgegaan na 1 732. Nou, ná agt keer se chemopille (hy drink dit vir sewe dae elke maand) is dit af tot 545.

[caption id="attachment_119362" align="alignnone" width="600"]ff Jacques se kankertelling was onlangs af van 1727 na 545. Foto: Facebook[/caption]

Voor die behandeling het hy ophou loop, want van die gewasse was in sy knieë. Die hoofgewas was in sy buik en hy het ophou eet. Hy het van vloeistowwe geleef, sê Lizel.

Die kanker het uit die senuweestelsel gegroei na sy knieë, buik en ook in sy murg, verduidelik sy ma. Daarna sou hy agt keer chemo gekry.

As daar ná vier behandelings geen verbetering was nie, sou hulle dit staak, hom pynmedikasie gee en sou hy waarskynlik ná vier tot agt weke gesterf het.

Hy het ook ’n stamseloorplanting en bestraling gekry. Op 4 Mei 2015 het hulle nie meer hoop vir hom gehad nie. Maar die dapper pasiëntjie het bly veg.

“Die chemopil in 2014 was eintlik net iets wat moes help teen die verspreiding van die kanker en om die groei van die gewas stadiger te maak, maar met die Here se genade het dit reeds driekwart gekrimp en al sy kliere het ook omtrent met soveel gekrimp,” vertel sy ma.

[caption id="attachment_119363" align="alignnone" width="600"]ff Jacques saam sy ma, Lizel. Foto: Facebook[/caption]

“Ons kan nou net aanhou bid en vas glo met genade van Bo sal die gewas heeltemal krimp en die kankerselle verdwyn,” sê Lizel.

Hy kry steeds sewe daar per maand die chemopilbehandeling. “Alles gaan baie goed op skool,” vertel Lizel.

“Hy sukkel glad nie: gaan voldag skool toe, raak nie moeg nie en eet normaal,” voeg sy by. “Hy is maar net ’n snaakse, gladdebek-outjie. En so propvol liefde. Dis alewig soene en drukkies uitdeel.”

– Pieter van Zyl

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Verpletterde’ Carl maak hart oop oor Oscar se appèl-uitslag

‘Ons wil die beste in die wêreld wees’ – sê Stormers-kaptein oor sy span se Superrugby-kanse

Hierdie vrou is verskriklik fiks – en boonop 36 weke swanger!

Munisipale verkiesing 2016: Registreer so dié naweek