''O, JY word seker lekker bederf?’’ moes die komediant Melt Sieberhagen (31) dikwels as kind hoor.

Want as jy ’n enkelkind is, moet jy bedorwe, selfsugtig en eiegeregtig wees, maar tog ook eensaam, redeneer mense dikwels.

Gelukkig het dit ook sy voordele as jy ál jou ouers se aandag kry en geen krooslinge het met wie jy vergelyk kan word nie – dit gee jou meer selfvertroue, jy is meer onafhanklik en raak vroeër volwasse.

En dis nie net Melt wat so sê nie, maar ál meer kenners stem saam: As jy ’n enkelkind is, kan dit juis van jou ’n uitblinker maak.

Weens ekonomiese fakore en veranderende kulturele waardes is daar wêreldwyd deesdae ál meer huisgesinne met net een kind. Die Bybelse idee dat ’n span kinders ’n teken van rykdom is, tref jy deesdae net nog in minder ontwikkelde lande aan.

Navorsing het ook gewys baie kinders waarborg nie groter geluk vir ouers nie. En ouers is deesdae meer geneig om aan hul eie geluk en lewensgehalte te dink.

Baie paartjies stel dit deesdae tot in hul laat 30’s uit om met ’n gesin te begin sodat hulle hulle eers in hul loopbaan kan vestig. Wanneer hulle eindelik ’n kind kry, is die ma te oud vir ’n tweede een.

Maar dit beteken nie dat hulle daardie arme bloedjie ’n onreg aandoen nie; inteendeel, enkelkinders presteer meestal beter as kinders uit groot gesinne, sê kenners.

Sy enkelkindstatus het hom dalk laat besluit om ’n professionele grapjas te word, sê Melt. ‘‘Ek twyfel of ’n mens ’n meer egoïstiese loopbaan kan kies,’’ skerts hy.

Die lekkerste van alleen grootword was dat hy kleintyd die hele agterste sitplek in die motor vir homself gehad het. Maar aan die ander kant kon hy nie ’n broer of suster vir sy kattekwaad blameer nie...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 12 Augustus 2010

Bespreek vir Skouspel!