Die Treffer na Treffer-konsert op 6 Oktober by Aardklop vind op dieselfde naweek as Huisgenoot-Skouspel plaas, maar ons kon net nie ons Aardklop-aanhangers in die steek laat nie.

Daarom laat vlieg ons spesiaal net vir die Aardkloppers ’n hele klomp Skouspel-kunstenaars na Potchefstroom vir ’n Treffer na Treffer-konsert uit die boonste rakke.

Dit is die enigste Huisgenoot-konsert vanjaar by Aardklop, maar dit gaan groot wees – maak dus seker jy is daar.

“Ons weet ons het die heel beste kunstenaars by Skouspel en ’n konsert by Aardklop sonder hulle sal net nie die moeite werd wees nie,” sê Izelle Venter, hoofredakteur van Huisgenoot, YOU en DRUM.

“Daarom bring ons hulle na die aanhangers. Hierdie konsert is heel anders as Skouspel, want dis minder formeel en baie meer soos ’n partytjie. As jy vanjaar by Aardklop is, is dit die een konsert wat jy nié kan misloop nie.”

Feesgangers kan uitsien na onder meer Kurt Darren, Nicholis Louw, Ray Dylan, Heinz Winckler, Romanz, Nianell, Gerrie Pretorius, Charlize Berg, Wicus van der Merwe, Jakkie Louw, Kevin Leo, Manie Jackson, Snotkop, MoniQue, David Fourie, Dewald Dippenaar, Adam Tas, NRG, Elizma Theron, Natasha Joubert, Willie Joubert, Du Preez Stoltz en Ricus Nel.

Die vertoning vind plaas in die Clover Musiek-arena op die Aardklop-feesterrein en begin om 18:00. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en kan vooraf bespreek word. Bespreekte plekke kos R125 en onbespreekte plekke is R95.

Volg Huisgenoot op Twitter.