00010541

-- Amerika se pres. Barack Obama: “Hy het meer vermag as wat van enige mens verwag kan word.”

-- Suid-Afrika se pres. Jacob Zuma: “Ons nasie het sy grootste seun verloor. Ons mense het ’n pa verloor.”

-- Suid-Afrika se oudpres. FW de Klerk: “Ek glo die voorbeeld wat hy gestel het, sal voortleef en dat dit Suid-Afrikaners sal aanhou inspireer om sy droom van nierassigheid, geregtigheid, menswaardigheid en gelykheid vir almal te bereik.”

-- Britse premier David Cameron: “’n Groot lig in die wêreld is uitgedoof.”

-- Aung San Suu Kyi, ’n kampvegter vir die demokrasie in Mianmar: “Hy het ons almal laat besef dat niemand gestraf behoort te word oor hul velkleur of hul herkoms nie. Hy het ons ook laat besef ons kan die wêreld verander.”

-- Indiese premier Manmohan Singh: “’n Reus onder mense het gesterf. Dis ewe veel ’n verlies vir Indië as vir Suid-Afrika. Hy was ’n ware Gandhiaanse mens.”

-- China se pres. Xi Jinping: “Hy het met harde werk en ongelooflike pogings die mense van Suid-Afrika met sukses in die stryd teen apartheid gelei, en ’n geskiedkundige bydrae gelewer tot die geboorte en ontwikkel van ’n nuwe Suid-Afrika.”

-- VN se sekretaris-generaal Ban Ki-moon: “Nelson Mandela was ’n reuse vegter vir geregtigheid en ’n plat-op-die-aarde mens en inspirasie.”

-- Amerika se oudpres. Bill Clinton: “Die geskiedenis sal Nelson Mandela onthou as ’n kampvegter vir menswaardigheid en vryheid, vir vrede en versoening.”

-- Nigerië se pres. Goodluck Jonathan: “’n Bron van inspirasie vir onderdruktes wêreldwyd.”

-- Lech Walesa, leier van Poolse vakbond Solidariteit en voormalige pres. Lech Walesa: “’n Merkwaardige man het gesterf.”

-- Israelse premier Benjamin Netanyahu: “Hy sal onthou word as die vader van die nuwe Suid-Afrika.”

-- Palestynse pres. Mahmud Abbas: “Die Palestyne sal nooit sy geskiedkundige stelling vergeet dat die Suid-Afrikaanse revolusie nie sy doelwit bereik het, solank die Palestyne nie vry is nie.”

-- Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu: “Hy het mense verenig vandat hy uit die tronk gestap het. Hy het ons geleer hoe om saam te staan en in onsself te glo.”

-- Tibet se verbanne geestelike leier, die Dalai Lama: “Die beste huldeblyk wat ons aan hom kan betoon is om alles in ons vermoë te doen om die eenheid van die mensdom te bewerkstellig en om ons te beywer vir vrede en versoening, soos hy hom daarvoor beywer het.”

-- Aartsbiskop van Kantelberg Justin Welby: “Suid-Afrika het ’n merkwaardige burger en hul vader verloor. Nelson Mandela, wat tot die einde geveg het, is nou vry om by sy Here te wees in vreugde en as beloning vir sy uitstekende diens en opoffering.”

-- Suid-Afrikaanse Rugbyunie: “Hy het die 1995-Rugbywêreldbekertoernooi, die eerste groot sportgeleentheid wat ná die demokratiese verkiesing van 1994 in Suid-Afrika aangebied is, gebruik as ’n werktuig vir verandering om eenheid tussen alle Suid-Afrikaners te help bewerkstellig.”

-- Suid-Afrika se eendagkrieketkaptein, AB de Villiers: “Laat ons nou, meer as ooit, saamstaan as ’n land! Ons is dit aan hom verskuldig.”

-- Die bokslegende Muhammad Ali: “Hy het ons vergifnis op ’n groot skaal geleer. Hy was ’n gees wat vry gebore is, bestem om bo die reënboë uit te styg. Vandag sweef sy gees deur die hemel. Hy is nou vir altyd vry.”

-- Die gewese Engelse sokkerkaptein David Beckham: “Ons het ’n ware heer en ’n moedige mens verloor. Dit was waarlik ’n eer om iemand te kon ken wat ’n ware liefde vir so baie mense gehad het.”

-- Die Brasiliaanse sokkerlegende Pele: “Hy was my held, my vriend.”

-- Die Engelse krieketlegende Geoffrey Boycott: “Ek het gevra of hy ’n bouler of ’n kolwer is. Hy het geglimlag en gesê hy is ’n veelsydige speler. Ek het gesê: Ek dog jy is ’n god.”

-- Die U2-sanger Bono: “Sou Afrika sonder Mandela sy beste dekade van groei en armoedeverligting beleef het?”

-- Prins William (nadat hy die première in Londen van die nuwe rolprent Mandela: Long Walk to Freedom bygewoon het): “Ons word net weer herinner watter buitengewone en inspirerende mens  Nelson Mandela was.”

-- Die Britse akteur Idris Elba (wat Mandela in die rolprent vertolk): “Ons het een van die grootste mense verloor wat nog die aarde bewandel het.”

-- Die Amerikaanse akteur Morgan Freeman (wat Mandela in die rolprent Invictus oor die Rugbywêreldbekertoernooi in 1995 vertolk het): “Vandag het die wêreld een van die ware reuse van die afgelope eeu verloor.”

-- Die Suid-Afrikaanse aktrise Charlize Theron: “Rus in vrede, Madiba. Jy sal gemis word, maar jou uitwerking op hierdie wêreld sal vir altyd voortleef.”

-- Die gewese CNN-onderhoudvoerder Larry King: “Hy was baie welsprekend en waardig.”

-- Die Microsoft-stigter, Bill Gates: “Sy grasie en dapperheid het die wêreld verander.”

-- Die stigter van die Virgin-groep, Richard Branson: “Nelson Mandela het leierskap herbepaal. Hy het gewys groot dinge kan bereik word deur te lei met wysheid, empatie en integriteit, met geen ander agenda nie as menslikheid.”

-- Die Amerikaanse biljoenêr Donald Trump: “Ek en Nelson Mandela het ’n wonderlike verhouding gehad; hy was ’n spesiale mens en sal gemis word.”

-- Die wêreldbank-direkteur, Jim Yong Kim: “Die wêreld het iemand verloor wat ’n reënboog van moontlikhede gebring het na ’n land wat in swart en wit geskei was.”