Ure voor ’n motor sy broer raakgery het en hy na die hospitaal gehaas is, het Zac, van Kirkcaldy in Skotland, ’n voorbode gehad oor sy identiese tweelingbroer se dood.

Logan (9) is ure tevore by die huis weg om by maats te gaan kuier. “Ek het geweet Logan sou by vriende gaan kuier,” het sy ma, Sionaid Brown (31), aan The Daily Record gesê. “Hy het ingekom en vir my gesê. Ek het soos altyd gesê hy moet sorg dat hy voor donker tuis is.” Maar kort daarna het Zac paniekerig geraak. “Hy het gesê: ‘Ma, jy moet Logan gaan soek.’” Sionaid en Zac het twee uur lank na Logan gesoek, tot die polisie opgedaag het om hulle die tyding mee te deel: Logan het in die Victoria-hospitaal aan sy beserings beswyk.

'Hulle was baie geheg aan mekaar.'

“Hy het voor enigiemand anders geweet. Hy het geweet. Hulle was baie geheg aan mekaar,” het Sionaid aan die koerant gesê.

Die twee seuns was so eenders dat selfs hul oupa Robert hulle nie kon onderskei nie.

“As hulle nou hier voor my gestaan het, en ek wens hulle het, sou ek steeds nie kon sê wie is wie nie.”

“Ek weet tweelinge is altyd na aan mekaar, maar dié twee het ’n band gehad wat nie gebreek kon word nie.”

Die polisie ondersoek die voorval.

Bronne: The Mirror, The Daily Record