Die negejarige James Barney jr. is baie gelukkig. Die seun van Florida in die Verenigde State het met sy lewe ontsnap toe ’n alligator hom tydens ’n swem aanval.

James het uit die hospitaal gepraat en het onthou hoe hy besluit het om op ’n warm dag in die Tohopekaliga-meer te gaan swem toe hy ’n ent op sy fiets gaan ry (dit is verbode om daar te swem). Die alligator het hom in die water aangeval.

“Ek het eers gedink iemand speel net met my, en ek het nie geweet wat gebeur het nie,” het hy aan die Amerikaanse nuusagentskap ABC gesê. “Ek het my hand ondertoe uitgesteek om dit te gryp, toe voel ek sy kaak en tande. Ek het nie geweet wat om te doen nie; ek het onmiddellik gereageer en het dit ’n paar keer geslaan. En ek het genoeg krag gehad om sy kaak oop te dwing.”

James kon hom bevry en na die oewer swem, waar sy vriend 911 gebel het.

Volgens James se dokters het hy oppervlakkige bytwonde gehad en is met sowat 30 tandmerke bedek. Hy is ook vol krapmerke van die alligator se kloue. Daar het ook ’n tand in sy rug vasgesit. Beamptes het die tand geneem om hulle die alligator te help opspoor, maar James hoop om dit terug te kry sodat hy dit as ’n hangertjie om sy nek te dra en sy vriende te wys. “Dit was ’n taamlik groot tand,” het James gesê. “Ek wil dit aan ’n ketting hang sodat ek al my vriende daarvan kan vertel.”

Dit is nie die eerste keer dat James in die meer geswem het nie, maar ná sy noue ontkoming sê hy hy gaan nie weer sy voet daarin sit nie.

Petro-Anne Vlok

Bronne: dailymail.co.uk, orlandosentinel.com, abcnews.go.com