Op die Karoo-dorp Steytlerville in die Baviaanskloof is Jannie Marx (47) bekend as die “slimste man op die dorp wie se hande vir niks verkeerd staan nie”.

Talle inwoners besing sy vernuf om als van yskaste tot motors reg te maak.

Hy en Johleen (27) het mekaar drie jaar gelede ontmoet toe sy langs ’n familielid van hom op Slagboom naby die Addo-olifantpark gewoon het. Sy was toe die enkelma van ’n gestremde seun.

“Ek dink ons het mekaar help heel word. Ons het deur swaarkry by mekaar aangepas,” vertel Jannie.

Hy was twee maande lank in ’n koma ná die motorongeluk wat hom mank gelaat het. Hy verduur steeds pyn in sy linkerbeen en -heup.

Johleen se seun, Jonathan Bezuidenhout (9), ly aan die seldsame Simon se siekte. Dit veroorsaak abnormale been- en kraakbeengroei.

“Hy verg 24 uur se sorg. Die slym moet heeltyd uit sy keel getap word sodat hy kan aanhou asemhaal,” vertel Jannie.

“Ek dink ek en Jonathan het ’n band omdat ons albei gestremd is. Ek het ’n nuwe lewe hier om mee aan te gaan. Dis moeilik, maar dis ’n  lewe.’’

As jy wil help met Jonathan Bezuidenhout se operasie in die Tygerberg-hospitaal, stuur ’n e-pos na Jannie Marx by jjmarx@igen.co.za

 

- Teks: Pieter van Zyl, Foto: Misha Jordaan