As jy vermoed dis tyd vir “die gesprek” met jou ou of meisie, is hier sewe tekens dat jy jul verhouding moet beëindig. (NOTA: Jy hoef nie ‘ja’ op elke vraag te antwoord om te weet dis verby nie; soms is een genoeg.)

Is jy meer ongelukkig as gelukkig?

Jou verhouding moet jou gelukkig maak en jou nie aanmekaar teleurstel nie. As dit nie meer pret is nie en julle baklei meer as wat julle tevrede saam is, is dit tyd om die verhouding te beëindig.

Kraak hy/sy jou af?

Jou meisie of ou behoort jou grootste bewonderaar te wees. As hy skimp jou nuwe jeans sit ’n bietjie te styf om jou sitvlak of as sy sê jy’s nie ’n regte man nie omdat jy nie die eersterugbyspan gehaal het nie, maar jou uit die voete!

Is hy/sy ongeskik of gemeen?

As jou ou ongeskik is met onderwysers, sy ouers of jou vriende, gaan hy binnekort ook ongeskik met jou raak. Ruil jou ongeskikte kêrel in vir ’n vriendeliker ou. Ons belowe jy sal baie gelukkiger wees.

Is jy skaam om jou meisie of ou aan ander mense voor te stel?

Dié punt spreek vanself.

Is hy/sy jaloers?

As sy jou verbied om saam met jou kleuterskoolvriendin te kuier, moet die rooi ligte begin flikker. En as jy voel jy kan nie jou ou vertrou nie, is dit ook nie ’n goeie teken nie.

Probeer hy/sy jou lewe beheer?

Jou ou behoort nie aan jou voor te skryf wat jy moet dra, waarheen jy mag gaan of wie jou vriende mag wees nie. Raak liewer ontslae van die beheervraat! Jy’s ’n individu en jy kan self besluit; jy het beslis nie ’n ou of meisie nodig om dit namens jou te doen nie.

Het hy/sy geheime?

Dis Vrydagaand en jy en jou meisie kyk saam ’n fliek. Wanneer sy ’n boodskap op WhatsApp lees en jy vra wie dit gestuur het, sit sy haar foon af en sê: “Ag, sommer niemand.” Moenie dié gevaartekens vir iets anders misgis nie.

As hy moeite doen om seker te maak jy kan nie eers sy selfoon sien nie, is daar heel moontlik iets fout.

Is jou vriende en familie almal teen jul verhouding gekant?

’n Ou of meisie moet altyd probeer om oor die weg te kom met jou vriende en familie. As hy nie bedagsaam is teenoor jou ouers nie of as sy dit vermy om saam met jou vriende te kuier, het jy ’n probleem. As een vriendin nie van jou ou hou nie, is dit dalk net hul mening. Maar as al jou vriende en familie teen jul verhouding gekant is, luister wat hulle te sê het! Hulle is lief vir jou en het heel moontlik goeie rede om bekommerd te wees.

Het hy/sy planne?

Dis oukei as jy op 16 nog nie weet wat jy die res van jou lewe wil doen nie. Maar as jou ou daarvan droom om in sy ouers se buitekamer te woon en heeldag PlayStation te speel, dink dalk weer. Julle moet elkeen jul eie doelwitte hê en mekaar ondersteun om dit te bereik.

-         Shané Barnard

Bronne: www.teen.com, www.girlslife.com, Huffington Post