Donderdagaand het kykers gesien hoe Friedel en Hermien sowel as Pieter en Nadene ouers word. Suzanne Venter het met die nuwe mamma’s gaan praat om te hoor hoe dit gaan met hulle en hul bondeltjies vreugde.

Hooffoto: Karli

Noodkeiser vir vasbyter Hermien

Hermien wou vreeslik graag normaal die lewe skenk, maar eindelik is klein Karli (3,64 kg) op 17 Augustus ná ’n dramaties kraamproses met ’n noodkeiser gebore.

Hermien is self ’n verpleegster, maar het vooraf besluit dat sy as mamma en nie as verpleegster gaan kraam nie.

“Ek het probeer om alles te doen wat Erna, die vroedvrou, sê en voorstel. Dit was onmoontlik om met my kennis die verloop van die kraam te evalueer,” sê Hermien wat volle vertroue in haar vroedvrou gehad het.

“Die kontraksies was verskriklik seer. Aangesien Karli posterior (met haar rug teen myne) gelê het, was die rugpyn baie erg. Gewoonlik met ’n posterior posisie verloop die kraam baie stadiger en is die pyn erger. Ek was baie gelukkig om die hele tyd baie goeie ondersteuning te hê.

“Friedel was daar vir my en het my deur elke kontraksie gehelp. Die vroedvroue het ook baie gehelp met motivering en pynverligting deur drukking op my rug te plaas. Ek het ook gebruik gemaak van visualisering en positiewe denke om deur kontraksies te kom en na die einde se kant toe ook laggas gebruik. Friedel se ondersteuning was egter die grootste hulp tydens die proses.”

“As daar enige tekens van stres was aan Karli se kant in enige stadium tydens die kraam, sou ek self al vroeër ’n keiser voorgestel het. Daar was egter nooit enige nood nie; daarom het ek bly deurdruk totdat ons nie meer kon nie en 'n keiser moes doen."

“Ek het myself lank voor die tyd al voorberei op die geboorte, en ek en Friedel het baie daarna uitgesien,” sê Hermien, wat oortuig is dat die keisersnee op die ou end ’n die regte besluit was.

“Ek het besef Karli gaan nie uitkom nie. Ek kon nie meer een van ons twee se lewe in gevaar stel nie. Ek het niks teen ’n noodkeiser nie. Dit is waarvoor dit daar is. Baie lewens is al so gered. Ek is gekant teen elektiewe keisersneë.

“Die sleg van die keiser was die pyn ná die tyd. Dat ek nie self kon opstaan en my kind versorg nie en elke keer as ek sukkel, het ek net weer besef hoekom ek nooit 'n keiser wou hê nie. As ek weer moet kraam, sal ek weer probeer om dit normaal te doen.

“Die pyn tydens kraam beïnvloed ten minste nie die versorging van my kind nie,” sê Hermien vir wie dit wonderlik was om eindelik klein Karli te kon vashou en te borsvoed na die geboorte.

“Friedel is baie trots op sy klein prinsessie.”

Dis nou amper ’n maand later en vir Hermien heerlik om ma te wees.

“Die besef dat daai klein lyfie net joune is en jy hoef haar nooit weer terug te gee nie is wonderlik! Dit was ook vir my heerlik om ná dae te besef ek mag haar maar soen, sy is myne.

“Ek het uit die aard van my beroep en my persoonlikheid al met baie babas te doen gehad. Ek het myself egter nog altyd daarvan weerhou om hulle te soen, want ek wil nie ’n ma affronteer nie en ook nie my kieme vir die kind gee nie. Nou kan ek nie ophou om vir Karli te soen nie - dis so lekker,” lag Hermien.

’n Kalm geboorte vir Nadene

Pieter en Nadene het van die begin af geweet dat hulle seuntjie met ’n keisersnee gebore gaan word, op 4 September 2013, en alles het seepglad verloop toe klein Altus (3,16 kg) 14:15 sy opwagting maak.

Pas gebore

“Die geboorte self was ’n baie rustige ervaring en die keiser was pynloos en is uiters professioneel uitgevoer deur dr. Minnaar. Almal by Unitas-hospitaal was baie vriendelik en baie bekwaam. Hulle het moeite gedoen om ons tuis te laat voel en steeds spesiaal, hoewel 12 babas daardie dag gebore is,” vertel Nadene.

“Woorde kan nie die gevoel beskryf wat ek gekry het toe ek Altus vir die eerste keer ontmoet en vashou nie. Dit was baie spesiaal. Ons het dadelik met die borsvoeding begin en hy was so oulik daarmee. Hy het presies geweet wat om te doen en instink het net ingeskop!

“Ek sien duidelike trekke van Pieter asook myself in hom en dis so spesiaal om te weet dis ons gesamentlike nalatenskap. Ons is baie trotse ouers en ons dink hy is die pragtigste en oulikste babatjie ooit . . . tipies eerste keer ouers!”

Pieter en Nadene, wat ouer is as die ander deelnemers aan Nege Maande, kan nie uitgepraat raak oor hoe wonderlik dit is om ouers te wees nie.

“Ek en Pieter wil ons doodlag vir al die gesigte wat hy kan trek, die ou-oompie-lyfie, die geluidjies en hoe ons dae nou rondom hom draai,” vertel Nadene.

“Ons is nou gereed vir die volgende fase van ons lewe en wil dit met ons seun deel, en hom grootmaak om sy regmatige plek in die lewe te kan inneem. Die nadeel is dat ons tydjie saam beperk gaan wees en ons moet die meeste daarvan maak. Ons verwag ook hy gaan ons jonk hou eendag met al sy dinge en aktiwiteite.”

“Ek dink ook met ouderdom kom ’n bietjie meer lewenservaring. Dit help dat ek en Pieter meer rustig is oor die nuwe uitdaging. Ons weet dat ons verhouding sterk is, ons finansieel stabiel is en dat ons goed is vir mekaar. Dit beteken dat daar minder is vir ons om oor bekommerd te wees. Ons kan ten volle op Altus fokus.

“Ek dink enige nuwe ouer is onseker of wat hulle doen regte is vir die baba, en ons ervaar dit ook, maar ons het genoeg vertroue in ons vermoëns en die hulp wat ons het om te weet dat ons dit ook eindelik sal regkry, sonder dat ons paniekerig te raak,” sê Nadine wat vir eers nie planne het om gou weer swanger te raak nie

“Ons sal maar sien. Ons vat dit net eers een tree (of baba) op ’n slag! In hierdie stadium beplan ons maar eers vir een.”

Nege Maande word Donderdagaande om 20:00 op kykNET uitgesaai. KLIK HIER vir meer inligting oor die program of gaan na http://negemaande.dstv.com/