Ná die Glee-akteur Cory Monteith se dood aan ’n oordosis alkohol en heroïen, kyk ons na nog bekendes wat jonk gesterf het

James Dean (1931-1955)

Oorsaak van dood: Motorongeluk

James Dean van Rebel Without a Cause-faam was ’n rolprent-ikoon in die 50’s en sy dood het sy status as Hollywood-legende bevestig. James was dol oor vinnige motors en het ’n reputasie as ’n rebel gehad. Hy het gesterf nadat sy Porsche Spyder teen ’n ander motor op ’n hoofweg in Kalifornië gebots het. Hy was 24.

Marilyn Monroe (1926-1962)

Oorsaak van selfdood: Dwelmoordosis

Meer as vyf dekades ná haar dood is Marilyn Monroe se naam steeds op almal se lippe en bly sy ’n gesogte sekssimbool. Sy is bekend om haar rolle in die flieks The Seven Year Itch en Some Like It Hot en haar dood was in omstredenheid gehul. Marilyn se psigiater het op haar lyk in haar huis in Los Angeles afgekom nadat sy ’n oordosis barbiturate (dwelms wat die sentrale senuweestelsel onderdruk) geneem het. Lykskouers van Los Angeles het Marilyn se dood as “vermoedelik selfdood” aangetoon, maar daar is verskeie menings wat John F. en Robert Kennedy, die CIA en die mafia betrek. Marilyn was 36.

Jimi Hendrix (1942-1970)

Oorsaak van dood: Dwelmverwante verstikking

Die ikoniese kitaarspeler Jimi Hendrix se dood was nie so glansryk soos sy loopbaan nie; ’n lykskouing het getoon Jimi het gesterf nadat hy aan sy eie braaksel verstik het nadat hy dwelms gebruik het wat die sentrale senuweestelsel onderdruk. Sy meisie, die Duitse sierskaatser Monika Dannemann, het Jimi in September 1969 in ’n koma aangetref in haar woonstel in Notting Hill toe sy wakker skrik. Hy is by die hospitaal dood verklaar. Jimi was 27.

River Phoenix (1970-1993)

Oorsaak van dood: Dwelmoordosis

Die Oscar-wenner Joaquin Phoenix se ouboet was ’n akteur, musikant en aktivis. Die tienersensasie het in Oktober 1993 op ’n sypaadjie buite die Viper Room-nagklub in Hollywood ineengestort en begin stuiptrekkings kry. Joaquin het die 911-noodnommer gebel terwyl hul jonger suster, Rain, River mond-tot-mond-asemhaling probeer gee het. Hy is by die hospitaal dood verklaar weens hartversaking wat deur dwelms veroorsaak is nadat hy kokaïen en heroïen in die klub se badkamer gesnuif het. River was 23.

Kurt Cobain (1967-1993)

Oorsaak van dood: Selfdood

Kurt Cobain se groep Nirvana het meer as 75 miljoen albums verkoop wat hom ’n superster gemaak het. Tog het hy gesukkel met sy kommersiële sukses en gestry teen depressie en heroïenverslawing. In April 1994 het alles te veel geraak vir die rocker en hy het hom in die kop geskiet met ’n haelgeweer, volgens die amptelike verslag. Hy was 27.

Tupac Shakur (1971-1996)

Oorsaak van dood: Verskeie skietwonde

Die Amerikaanse rapper en akteur Tupac, beter bekend onder sy verhoognaam 2Pac, het meer as 75 miljoen albums wêreldwyd verkoop wat hom een van die topverkoper-kunstenaars maak. Hy was deel van die rap-oorlog tussen die Ooskus en Weskus en betrokke by gevegte met ander kunstenaars soos Notorious B.I.G. In September 1996 is 2Pac in die bors, bekken, regterhand en regterbobeen geskiet in ’n verbyry-skietaanval. Hy het ses dae later in die hospitaal gesterf. Die skuldiges is nooit uitgeken nie. Hy was 25.

Brittany Murphy (1977-2009)

Oorsaak van dood: Longontsteking tesame met bloedarmoede en bedwelming

Die oulike Brittany het die silwerdoek getref as die nuwe meisie in die spogskool in Beverly Hills in die tienerkomedie Clueless. Sy was daarna in die trefferflieks Girl Interrupted, 8 Mile en Happy Feet. In Desember 2009 het haar man, Simon Monjack, die paramedici na hul huis in Los Angeles ontbied nadat sy in die badkamer ineengestort het. Sy is met haar aankoms by ’n nabye hospitaal dood verklaar. Die lykskouer het bekendgemaak haar longontsteking was die hoofoorsaak van haar dood en dis gekompliseer deur bloedarmoede en verskeie voorskrifmedisyne. Sy was 32.

Heath Ledger (1979-2008)

Oorsaak van dood: Oordosis voorskrifmedisyne

Te midde van die bohaai oor die uitreiking van die Batman-fliek The Dark Knight waarin Heath uitstekende spel lewer as die booswig The Joker, is die akteur bewusteloos in sy bed in sy woonstel in Manhattan gekry. Hy is dood verklaar toe paramedici op die toneel opdaag nadat hy ’n dodelike mengeldrankie van voorskrifmedisyne geneem het. Heath was 28.

Amy Winehouse (1983-2011)

Oorsaak van dood: Alkoholvergiftiging

Nadat sy in 2008 haar dwelmgewoonte gelos het, het die eklektiese Britse sangeres/liedjieskrywer Amy Winehouse begin drank misbruik en dit het eindelik tot haar dood gelei. In Julie 2011 het Amy se lyfwag haar regdeur die dag probeer wakker maak en eindelik besef sy haal nie asem nie. Hy het nooddiens gebel en Amy is op die toneel dood verklaar. Die lykskouer se verslag het bevind dat Amy se bloedalkoholvlakke 0,416 persent was en dat die “onopsetlike gevolg van sulke potensiële dodelike vlakke haar skielike dood was”. Amy was 27.

Bronne: radaronline.com, thetelegraph.co.uk, theguardian.co.uk, bbc.co.uk

- Kirsti Buick