DIE nuwe jaar is hier, en om dit prettig af te skop, het ons hier by Huisgenoot ’n opwindende nuwe tegnologie-foefie vir jou.

Dit lyk amper soos ’n tatoeëermerk, maar ons noem dit sommer ’n ikoon, en met dié meneertjie kan jy nou na allerlei interessante video’s op jou selfoon kyk, of jy kan muurpapier aflaai. Daar is verskeie ikone op verskillende plekke in die tydskrif, en al wat jy moet doen, is om die ikoon met jou selfoonkamera te kiek om te sien wat ons vir jou het.

As jy byvoorbeeld die ikoon op die voorblad kiek, sal Lee-Ann Liebenberg, ons lieflike voorbladnooi, as’t ware vanuit die blad lewend met jou gesels! Kiek een van die ikone op die tienerblad, en jy hoor ’n greep uit Taylor Swift se nuwe enkelspeler van haar jongste album af.

Dit klink amper te goed om waar te wees, en die tegnologie vir dié lekker ekstra in jou tydskrif is inderdaad so vars uit die oond dat die stoom eintlik nog trek. Dis nog net een keer tevore in Suid-Afrika gebruik, en dit was in Huisgenoot se spesiale Skouspel-tydskrif.

Hier onder vertel ons jou hoe om te werk te gaan om so interaktief saam te kuier.

1 KRY DIT

Jy moet ’n program op jou selfoon aflaai voor die ikone sal werk. Kry dit op die web. Maak die webblad http://gettag.mobi op jou selfoon oop en laai die program af deur te klik op ‘‘download’’. Die program is gratis en klein – minder as 1 MB – maar jy sal normale datakoste betaal. Of SMS die woorde HUISGENOOT IKOON na 32113 (dit kos R1) en ons stuur vir jou die skakel waarmee jy die program aflaai, direk na jou selfoon. Soek jou soort selfoon op die lys op die webblad; as dit nie daar is nie, sal jy ongelukkig nie die ikoonprogram kan aflaai nie. As jy ’n slimfoon soos ’n iPhone het, kan jy jou foon se programwinkel – die “app store’’ – of die mark besoek om die ikoonleserprogram te soek.

2 KIEK DIT

As jy die program afgelaai het, gaan na enige van die ikone in hierdie uitgawe van Huisgenoot. Die ikone werk net as jou selfoon ’n ingeboude kamera het, en wat jy nou moet doen, hang af van die soort foon wat jy het.

Gaan na Downloads of jou programwinkel, klik op die ikoon en maak Tag Reader oop. Met Apple se iPhone hoef jy bloot jou foon bo die ikoon te hou om die ikoon te skandeer nadat jy die leser oopgemaak het; nes jy maak as jy ’n foto wil neem. Met ander fone moet jy regtig ’n foto van die ikoon neem voor die video of foto sal oopmaak. Maar moenie die hele blad afneem nie, net die ikoon!

3 KYK DIT

Wanneer jy die ikoon afgeneem het, kan jy die inhoud te sien kry – ’n videogreep, skermskut vir jou rekenaar of muurpapier. Met die meeste slimfone speel ’n videogreep vanself. Ander fone bêre grepe in jou mediasentrum onder video’s en jy moet daar daarna gaan kyk. Die musiekvideo’s speel vir enigiets van 30 sekondes tot ’n minuut. Die normale datakoste geld; daarom behoort dit jou hoogstens R3 te kos om ’n greep af te laai, natuurlik na gelang van jou selfoonpakket. Maar die ikone is joune met die komplimente van Huisgenoot – kry dit, kiek dit, kyk dit – geniet dit!

Bespreek vir Skouspel!