Beligting

Vermy die son wanneer dit op sy helderste is. Die beste tyd van die dag om foto’s te neem is vroegoggend of skemer. Die son se strale is dan sag en vleiend, en jou selfoon kan die pragtige kleure vasvang. Maak ook seker daar is genoeg lig in die kamer waar jy die foto wil neem, sê die Huisgenoot-fotograaf Peet Mocke. “As daar te min lig is, kan die foto wasig lyk.”

Stabiliseer jou selfoon

Beweging kan die mooiste foto bederf. Maak seker jy hou jou selfoon stil deur jou arms te stut of teen jou lyf te hou. Wanneer jy ’n bewegende onderwerp (soos ’n kind wat leer loop) wil afneem, volg jou kleinding met die kamera teen dieselfde spoed as wat hy beweeg. Op dié manier sal jou kind in fokus wees terwyl die agtergrond wasig is.

Neem net

Moenie jouself martel nie – as jou tweejarige nie wil stilsit en glimlag nie, vang die oomblik vas nes dit is. Dié foto’s is dikwels egter.

Daal tot hulle vlak

Sak op jou hurke of lê sommer plat op jou maag om jou peuter se gesigsuitdrukkings die beste vas te vang.

Gebruik hoë resolusie

Maak seker jou selfoon se kamera is altyd op die hoogste moontlike resolusie gestel. So verseker jy foto’s van die hoogste gehalte.

Vermy digitale zoem

Probeer sover moontlik die zoemfunksie vermy omdat dit die kwaliteit van jou foto verlaag. Gaan staan liewer nader aan die mense wat jy wil afneem.

Agtergrond

“Maak seker die agtergrond is nie te besig nie,” is Peet se raad. Dit verskuif die fokus weg van jou kinders en soms kan dit selfs lyk of daar goed uit ul koppe groei!

Gebruik die hele skerm

Gebruik die hele raam van die kamera om die foto vol te maak, sê Peet. Wanneer jy die foto wil uitdruk sal jy ’n mooi, vol foto hê.

- Shané Barnard

Ekstra bronne: obabyapp.com