Hy het sy 17-jarige dogter ses keer geskiet en drie skote op sy seun afgevuur, terwyl sy vrou twee koeëlwonde in die kop gehad het.

Die ondersoekbeampte se verklaring is in die hof voorgelees. Daarin sê die beampte Fanie het vir hom gesê die dwelmbase het hom met ’n vuurwapen aangehou, vir hom ’n vuurwapen gegee en gedwing om sy gesin te vermoor.

Fanie het aan die beampte gesê sy dogter, Carlia, het hom probeer keer en gesmeek “Nee, Pappa, nee”, en dit is hoekom sy deur haar hand geskiet is.

Sy was wakker toe hy haar doodgemaak het.

Lees ook: Vanderbijlpark-moordbeskuldigde kry nie borgtog

Sy vrou, Thea (43), het twee koeëlwonde in die kop gehad en sy seun, Phillip (14), een. Twee skote wat hy na bewering op Phillip afgevuur het, was mis, terwyl die derde een hom in die kop getref het.

Toe die beampte hom later vra hoekom hy nie na die polisie gegaan het toe die “dwelmbase” hom dreig nie, het Fanie gesê hy kon nie die polisie vertrou nie.

Volgens die ondersoekbeampte het Fanie tydens die ondersoek geen emosie of berou oor sy vermoorde gesin getoon nie. Fanie se prokureur, Francois de Kock, het die pa se verklaring oor sy weergawe van die gebeure voorgelees.

Francois het aan die hof gesê sy kliënt glo nie die staat het ’n sterk saak teen hom nie en wil onskuldig aan die moorde pleit. Fanie sê hy het eers vir die polisie gesê hy het gedink daar was ’n rooftog by sy huis, want dit is hoe hy gedink het dit gelyk het.

Hy het later vir die polisie sy volle samewerking gegee, sê hy.

Francois het aan die hof gesê Fanie is nie ’n vlugrisiko nie, want hy het nie ’n paspoort of familie buite Suid-Afrika nie. Hy sal geen burgers leed aandoen nie, het hy gesê.

Lees ook: ‘Sy’t hom elke keer vergewe’ – toe skiet hy haar en kinders dood

Fanie wil op borgtog vrygelaat word, want hy rou oor die verlies van sy gesin en “geen opbouende rou kan gebeur terwyl jy in die tronk is nie”. Hy het aan die hof gesê hy het geen vorige sake teen hom nie en is werkloos.

Die hof het gehoor Fanie en sy vrou, Thea, het aparte bankrekenings gehad en hy moet op borgtog vrygelaat word om sy vrou se boedel te hanteer. Fanie het gesê hy sal borgtog van R20 000 kan bekostig. Hy kan nog R20 000 bydra indien nodig, het hy gesê.

Die staat voer aan dit sal nie in die belang van die gemeenskap wees om Fanie op borgtog vry te laat nie.

Bron: News24