Dit lyk asof hulle gemaak is om te tik. Om te tik verg geen harde arbeid of meer vaardigheid as om ’n klavier te speel nie.”

’n Mens wonder wat die einste John vandag te sê sou gehad het as hy moes weet waarmee vernuftige vroue al alles intussen vorendag gekom het nie.

Dalk gaan selfs jy verstom wees wanneer jy sien wie nou eintlik wat uitgevind het.

Ninkasi is ’n naam wat jy moet onthou as jy van bier hou. Jane Peyton, ’n kenner van die geskiedenis van bier, beweer dat vroue in antieke Mesopotamië die eerste mense was wat bier uitgedink, verkoop en self gedrink het. Dus, drink gerus ’n heildronk op Ninkasi, die Sumeriese godin van brou en bier.

Die eerste rekenaarprogrammeerder was ’n vrou. Augusta Ada King, hertogin van Lovelace, het in die middel 19de eeu ’n masjien met wiskundige algoritmes geprogrammeer.

Dankie, Nancy Johnson, die vrou wat die handgedrewe roomysvriesmasjien in 1843 uitgevind het. Sommige glo dat hierdie manier van roomysmaak boonop aansienlik beter is as met moderne tegnologie.

roomys

So ’n briljante uitvinding kon beslis nie deur ’n meisie uitgevind word nie. Dis wat Charles Anan aangevoer het toe hy Margaret Knight se patent vir platboombruinpapiersakke wou steel. Ná ’n uitgerekte hofsaak teen hom kon sy die patent in 1871 registreer. Terloops, sy was net 12 toe sy ’n veiligheidsfunksie vir katoenmeulens ontwikkel het. Dit word vandag nog gebruik.

[caption id="attachment_119126" align="aligncenter" width="600"]Foto: flickr.com (Steven Depolo) Foto: flickr.com (Steven Depolo)[/caption]

Maria Beasely het glo op ’n dag in 1882 oor die see uitgestaar en gesê: “Mense moet ophou doodgaan in groot vervoerrampe.” Toe voeg sy die daad by die woord en ontwerp reddingsbote. Sy het minstens 15 patente geregistreer met onder meer ’n houtvat-vervaardigingsmasjien wat haar skatryk gemaak het, ’n voetverwarmer en ’n teenontsporingstoestel vir treine.

Life_raft

Menige sal graag ’n standbeeld vir Josephine Cochrane wil oprig. Hoekom? Sy het in 1887 die skottelgoedwasser uitgevind. “Ek kon nie mans kry om die goed op my manier te doen voor hulle nie hul eie manier probeer en daarin gefaal het nie,” het sy glo gesê. Terloops, vroue wou nie haar skottelgoedwassers koop nie. Toe teiken sy hotelle. En die res, soos die gesegde lui, is geskiedenis.

Die motorverwarmer is te danke aan Margaret A. Wilcox, ’n meganiese ingenieur wat in 1893 met die slim plan vorendag gekom het om lug van die enjin na die binneruim van die motor te gelei.

Hoe voel jy oor inspuitings? In 1899 het Letitia Greer die mediese spuitnaald uitgevind waarvoor jy net een hand nodig het om dit te gebruik.

Mary Anderson het in 1903 met ’n uitvinding vorendag gekom om sig van motorbestuurders tydens stormweer te verbeter. Haar uitvinding het ewe goed tydens sneeu gewerk: ruitveërs.

Elizabeth “Lizzie” Magie het in 1904 ’n bordspeletjie, The Landlord’s Game, ontwikkel. Dertig jaar later het Charles Darrow haar idee skaamteloos gesteel en dit onder ’n ander naam aan George en Fred Parker verkoop. Hul maatskappy het Elizabeth eindelik met $500 vergoed vir een van die wêreld se gewildste bordspeletjie: Monopoly.

Die moderne koelkas is die geesteskind van Florence Parpart. Daar is baie min inligting oor haar bekend, maar hierdie uitvinding van haar in 1914 het tot die einde van die “ysboks” gelei op plekke waar mense toegang tot elektrisiteit gehad het.

[caption id="attachment_119137" align="aligncenter" width="600"]Foto: flickr.com (Michael Coté) Foto: flickr.com (Michael Coté)
[/caption]

Sy was ’n liefling van die silwerdoek, maar ook ’n uitvinder van formaat. Hedy Lamarr het draadlose uitsendingstegnologie tydens die Tweede Wêreldoorlog uitgevind vir radiobeheerde torpedo’s. Hierdie tegnologie vorm die grondslag van GPS en Wi-Fi.

Marie Van Brittan Brown het kringtelevisie in 1969 gepatenteer. Dit was om mense in staat te stel om hul eie veiligheid te verseker omdat die polisie stadig op oproepe uit haar buurt in New York gereageer het.

cctv

Hoeveel lewens het die koeëlvaste Kevlar al gered? Stephanie Kwolek, ’n chemikus, het die sterker-as-staal-vesel in 1965 ontwikkel. Dit sou aanvanklik in motorbande gebruik word. Vandag kry ’n mens Kevlar ook in vliegtuie, selfone en seiljagte.

Bronne: bustle.com, buzzfeed.com, huffingtonpost.com, mentalfloss.com, herstorynetwork.com, bbc.com

Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Ander stories op Huisgenoot.com

Het jy al ooit gewonder waar ritssluiters vandaan kom?

Jy sal nie glo hoe 7de Laan se Bart deesdae in Amerikaanse reeks lyk nie

‘Bid asseblief,’ pleit ma van vierjarige wat om sy lewe veg

Dapper vrou red haar man met geweld uit krokodil se kake

Moet ek my baas in sosiale media bevriend? Hier’s wenke oor aanlyn etiket

Ontstellende video wys hoe kleuter uit bewegende motor val en net weer opstaan