EN NOU swaai sy poedelkaal op  ’n enorme sloopgewig rond en lek sy ’n voorhamer in die video vir haar nuwe liedjie Wrecking Ball . . . hoeveel verder kan Miley Cyrus nog gaan? Behalwe as sy heelpad gaan, het ons nou omtrent alles van haar gesien!

Die ding is, kindjie, ons verstaan wat jy probeer sê: Die rein en onskuldige Miley van Hannah Montana-faam is dood en begrawe. Maar jy hoef regtig nie aan te hou om ons met ál meer aanstootlike video’s en liedjies daaraan te herinner dat jy nou o-so-groot en voorwaarts is nie.

Terwyl jou twee doelstellings duidelik is om die trefferparade-rekords te laat spat en wenkbroue te laat lig [oor haar VMA-vertoning het Miley gesê sy wou “geskiedenis” maak] – is jy nie net ’n klein bietjie bekommerd oor hoe dit die res van jou lewe raak nie?

Jou liefdeslewe is verwoes. Danksy daardie VMA-vertoning het jou aan-af-verloofde, Liam Hemsworth, glo die heuwels ingevlug. En wie kan hom verkwalik as omtrent almal op die planeet sy meisie se wellustige tong – om nie van haar ander liggaamsdele te praat nie – van naby gesien het?

Anna Wintour, hoofredakteur van die Amerikaanse Vogue en vreesaanjaende en onbetwiste doyenne van die modewêreld, was glo so gewalg deur die vertoning dat sy onmiddellik jou komende Vogue-voorblad in die asblik gegooi het. As ’n mens enigsins naastenby ’n mode-ikoon is, móét dit ’n terugslag wees. Om op ’n Vogue-voorblad te kom is moeiliker as om die ysige Anna te laat glimlag (iets wat klein Harper Beckham wel onlangs reggekry het).

So ja, daar is ’n prys om te betaal vir wat jy aanvang, Miley, al sien jy dit dalk nie nou so in nie.

- Nici de Wet

Gaan kyk die omstrede video hier.