Hy is al baie name genoem – van ‘liefdesrot’ tot iemand wat nie sy mond kan hou nie. Só vertel die man wat in ’n seldsame media-onderhoud sê dit was so maklik om vir prinses Diana lief te raak.

En nee, hy is nie die nimlike prins Harry se pa nie.

Aan die woord is James Hewitt (58), die gewese Britse weermagoffisier wat sowat vyf jaar lank in ’n liefdesverhouding met die “prinses van harte” was.

Hy is ook die man wat op Amerikaanse televisie daarmee gespog het dat hy meer as $16 miljoen (ongeveer R209 miljoen) aangebied is vir briewe wat Diana aan hom geskryf het, sowel as twee wat ’n vyfjarige prins Harry aan hom gestuur het.

James het in 2015 besluit hy is bereid om die briewe te verkoop vir "net" $150 000 (naastenby R1,97 miljoen). Maar hy het koue voete gekry en die briewe daarna heeltemal van die mark onttrek.

James het Sondag op die Australiese televisiediens Channel Seven se Sunday Night-program met die televisiepersoonlikheid Melissa Doyle gesels. Die program het die twee dekades sedert Diana se dood herdenk.  

Op Melissa se vraag waarop James destyds sy hoop gevestig het met Diana, het hy bloot gesê: “Dis ’n goeie vraag, maar ’n moeilike een om te beantwoord”. “Daar was nie regtig enige hoop nie. Ek was verskeur tussen plig . . . en liefde,” was sy eindelike reaksie.  

Maar die gerugte dat hy moontlik Harry se pa is, het hy blitsvinnig ontken. Hy meen die enigste rede hoekom dié gerug so gereeld opduik, is dat dit koerante help verkoop. Volgens James is dit waarskynlik erger vir Harry as vir hom.

Ken Wharfe, een van Diana se ander veiligheidsmanne, het in sy eie boek, Diana: Closely Guarded Secret, geskryf dat die gerugte absolute nonsens was en dat dit Diana terselfdertyd verpletterd en woedend gelaat het.

Harry is op 15 September 1984 gebore en Diana en James het mekaar eers in 1986 ontmoet.

[caption id="attachment_163603" align="alignnone" width="600"]Foto: Getty Images Foto: Getty Images[/caption]

James het tydens die onderhoud vir Diana as “iets spesiaals” beskryf. Hy het ook vertel hoe hulle saam sou kook; oftewel hy sou kook en sy sou die opwaswerk doen. “Net aandete, ontspan en lag,” sê hy.

“Ek dink dit was baie maklik om vir haar lief te raak, so ek dink ek kan daarvoor vergewe word.”

Diana het ook in haar leeftyd erken dat sy en James ’n affair gehad het. Dit was in dieselfde tyd dat Charles en Camilla Parker-Bowles, met wie hy later sou trou, ook ’n buite-egtelike verhouding gehad het.

Diana en Charles is eers in 1996 geskei.

 

Bronne: smh.com.au, news.sky.com, news.com.au