Prins Johan Friso van Nederland is gister oorlede nadat hy ’n jaar en ’n half lank in ’n koma was.

Dit volg ná ’n ski-ongeluk verlede jaar in Oostenryk toe hy in ’n sneeustorting 15 minute lank begrawe was. Hy het blykbaar ernstige breinskade opgedoen in die ongeluk en ’n hartaanval gehad. Nog komplikasies het ingetree nadat hy verlede maand van ’n Londense hospitaal na Nederland oorgeplaas is.

’n Verklaring van die koninklike paleis lui: “Sy majesteit die koning kondig met diepe spyt aan dat sy koninklike hoogheid prins Johan Friso Bernhard Christiaan David, prins van Oranje-Nassau, jonkheer van Amsberg, vanoggend in die ouderdom van 44 by die paleis Huis Ten Bosch oorlede is.

“Prins Friso is dood aan komplikasies verwant aan die breinbesering wat hy opgedoen het weens sy ski-ongeluk op 17 Februarie 2012 in Lech, Oostenryk.

“Ná aanvanklike behandeling by die waakeenheid van die Innsbruck-universiteitshospitaal is prins Friso vroeg in Maart 2012 oorgeplaas na die Wellington-hospitaal in Londen.

“In November 2012 het prins Friso tekens van beperkte bewustheid begin toon en sedertdien in daardie staat gebly.”

Die paleis het ook hulde gebring aan die mediese span wat na die prins omgesien het.

Die verklaring lui verder: “Die koninklike familie bedank heelhartig al die mense wat na prins Friso gekyk het vir hul uitstekende en toegewyde sorg.”

Johan word oorleef deur sy vrou, prinses Mabel, wat glo haar 45ste verjaardag op 11 Augustus langs sy bed gevier het. Hy laat ook twee dogters, Luana (8) en Zaria (7), na.