Afknouery op skool is ’n toenemende probleem. Dit het Pondering Panda, ’n maatskappy vir verbruikersinsig,  in ’n ondersoek bevind.

“Afknouery is nie net die grootste probleem in ons skole nie, maar meer mense noem dit as ’n probleem as ’n jaar gelede,” het Pandering Panda se woordvoerder, Shirley Wakefield, Dinsdag gesê.

“Die boelieprobleem word vererger deur die toename in selfone en mobiele toestelle, wat lei tot kuberafknouery,” sê sy. “’n Mens ken dit moeiliker uit, maar dit kan ewe skadelik wees.”

Volgens die maatskappy is onderhoude gevoer met 5 314 leerders, onderwysers en familielede tussen 13 en 34.

In die ondersoek het 36 persent van respondente afknouery as een van die grootste probleme op skool genoem, vergeleke met 28 persent ’n jaar gelede.

Ander probleme is te veel leerders per klas, ouers wat nie betrokke genoeg is nie, en ’n tekort aan ordentlike toilette.

Hoe groot afknouery op skool is, verskil volgens ouderdom.

Altesaam 40 persent van die 13- en 14-jariges beskryf afknouery as ’n groot probleem, teenoor 32 persent van dié tussen 15 en 17.

Die ondersoek het bevind meisies en seuns word ewe veel geboelie.

Volgens die maatskappy glo 34 persent van swart respondente afknouery is een van die belangrikste probleme op skool, vergeleke met 41 persent wittes en 43 persent bruin mense.

Die topdrie provinsies wat afknouery as ’n groot probleem uitgeken het, was die Wes-Kaap (44 persent), Noordwes (41 persent) en Gauteng (40 persent).