Dit kom voor in een van baie min aangetekende gevalle (buite Indië) van hierdie uiters skaars groot katte.

Aarbeikleurige of eritristiese luiperds is die gevolg van ’n buitengewone genetiese kinkel en hulle is effens ligter van kleur as ander luiperds. Hul swart kolle is rooibruin van kleur. Sommige mense reken hulle is die oorspronklike “pink panthers”, alhoewel dr. Mark Fellowes van die universiteit van Reading, VK, een van die skrywers van ’n onlangs gepubliseerde artikel oor die aarbeikleurige luiperds van Suid-Afrika, nie van hierdie bynaam hou nie. Hy het aan News24 gesê: “Hulle is aarbeikleurig in dieselfde sin as iemand wat aarbeiblond is, daardie soort rooiblonde haarkleur. Vir my lyk hulle ‘uitgewas’.

Daar is sedert 2012 vyf van die luiperds opgemerk. Twee is in ’n wildreservaat in Mpumalanga aangetref op ’n terrein waar ’n intensiewe drie jaar lange studie geloods is deur navorsers van Reading, bygestaan deur Ingwe-Luiperdnavorsing.

Ander mutasie Die navorsers was, met behulp van veldwagters, natuurbewaarders en die sosiale media, in staat om die bewyse van die bestaan van vyf ander eritristiese luiperds aan te teken. Hierdie luiperds is in Mpumalanga en die Noordwes-provinsie aangetref. Twee van hulle is in padongelukke dood en een is iewers in die afgelope twintig jaar geskiet. Sy vel is aan ’n boer geskenk. Voor hierdie studie was die vernaamste verslae uit Indië afkomstig, waar ’n wetenskapartikel, gepubliseer in 1933, aangedui het vyf luiperds “met ligbruin kolle” is tussen 1905 en 1965 geskiet.

Volgens Fellowes was daar so weinig bekend oor die teenwoordigheid van aarbeikleurige luiperds in Suid-Afrika, dat die navorsingspan verbaas was toe een in ’n kamerastrik beland het.

Hy het gesê: “Om nou baie eerlik te wees: ons was nie bewus van hierdie kleurmorfering nie, totdat ons die een in die kamerastrik gevang het. Ons het ’n bietjie rondgegrawe en dit het uitgeloop op ’n paar optekenings in die pers.

"Ons kon hierdie gegewens met ons eie aantekeninge, sowel as ’n opname van kundiges oral in Suid-Afrika, saamvat.” Fellowes het bevestig een van die aarbeikleurige luiperds is gedurende die studietyd gebore en is deur Tara Pirie, ’n doktorale navorser, gesien. Die welpie se ma was nie ’n aarbeikleurige luiperd nie. Fellowes beklemtoon dat hierdie luiperds nie albino’s is nie. “Dit is ’n ander mutasie.” Rare gene Dit is reeds bekend dat luiperds se kleure wissel na gelang van geografiese ligging. Luiperds uit dele met digte woude, is donkerder en hul kolle is heelwat nader aan mekaar.

Luiperds wat in droë streke bly, is gewoonlik ligter van kleur en hul kolle is verder uitmekaar, moontlik vir kamoefleerdoeleindes. Dit verduidelik egter nie hoe die sewe eritristiese luiperds wat in hierdie studie gevind is, aan hul kolle gekom het nie, aangesien Mpumalanga nie ’n besonder droë streek is nie.

Fellowes en sy kollegas vermoed die voorkoms van hierdie ultraskaars katte in die streek mag moontlik te doen hê met die druk op luiperdpopulasies en die inteling wat daaruit voortspruit. Alhoewel jag op luiperds nie deur die wet toegelaat word nie, word party luiperds tog deur boere doodgemaak. Andere is af en toe slagoffers van padongelukke.

"Skaars geslagstipes word nie in gewone groot troppe aangetref nie,” sê Fellowes. “Maar wanneer troppe verbrokkel, vind jy dat meer verwante individue met mekaar paar, dus kan skaars gene na vore kom.”

Bron: News24.com