’n Studie deur die Universiteit van Zürich het bevind dat honde mense sal mislei as hulle die persoon as ’n mededinger beskou. Vir die studie, gepubliseer in die joernaal Animal Cognition, is 27 honde elk saam met twee mense ingedeel. Elkeen sal dan ’n lekkerny uit ’n bakkie haal en vir die hond wys, maar waar een party dit dan vir die hond sal gee, sal die ander dit in sy sak druk. Daarna moes die honde elkeen van hul twee “eienaars” na een van drie bakke neem. Twee van die bakke het lekkernye ingehad en een was leeg. Die oefening is toe herhaal: Die “gawe eienaar” sal vir die hond die lekkerny gee terwyl die “mededingende eienaar” dit weer vir homself sal vat.

Wetenskaplikes het toe waargeneem hoe die honde keer op keer die “gawe eienaar” na ’n bak met lekkernye neem en die “mededingende eienaar” na die leë bak.

Die honde het besef dat as hulle die meer selfsugtige eienaar na ’n leë bak lei, hulle die lekkerny ná die tyd by die ander eienaar sal kry.

Dié oefening het aan wetenskaplikes bewys dat honde die vermoë het om takties te dink en iemand te mislei indien nodig.

Bronne: National Geographic, New Scientist, Smithsonian Magazine