Hoe skryf jy ’n boek oor vroue en sensualiteit uit ’n vrou se oogpunt as jou kind siek is en jy self “so sensueel soos ’n baksteen” voel?

Vra vir Natasha Sutherland, want sy het so gevoel toe sy aan haar jongste boek begin werk het.

=

Toe sy die opdrag van ’n uitgewer kry, het dit eers vir haar maklik geklink om ’n boek oor vroulike sensualiteit te skryf.

“Maar toe ek moes begin, was my seun Benjamin siek en alles was net te veel. Ek het soos die laaste mens gevoel wat oor die onderwerp kon skryf,” sê sy.

“Dis toe dat ek besluit om nie net oor die goeie nie, maar ook oor die slegte dinge te skryf en die mooi wat uit die slegte gebore word.”

Haar hande praat saam en beduie opgewonde terwyl sy van die projek vertel wat haar lank besig gehou het in 2010.

Die aktrise, deesdae ’n skrywer, en ma van twee seuns, Sebastian (9) en Benjamin (7), se bruin oë vonkel lewenslustig.

Op 40 lyk sy pragtig in ’n paar rooi hakskoene, modieuse harlembroek en ’n swart moulose baadjie met frilletjies – nes ’n prinses van ouds in ’n moderne feëverhaal. Sy lyk glad nie soos ’n vrou wat af en toe haar sprankel verloor nie.

Dis juis waaroor haar nuwe boek, Sprokie, ’n Soeke na Sprankel, gaan: vroue wat hul sprankel verloor en daardie vonkel weer te midde van ’n krisis terugkry.

As sy haar eie sensualiteit langs die pad verloor het te midde van haar eie krisis – die verbrokkeling van haar huwelik met die sanger Steve Hofmeyr – is daar vandag geen teken daarvan nie.

“Dit gaan daaroor om uit jou krisis ’n nuwe doel te vind. En ek het. As jy vyf jaar gelede vir my gesê het ek sou boeke skryf en as motiveringspreker optree, sou ek gelag het. Maar ek het uit my gemaksone beweeg en ek geniet elke oomblik daarvan. Nou’s daar geen keer aan my nie.”

En sy het al weer haar oë op ’n nuwe horison.

Moenie Huisgenoot se onderhoud met Natasha misloop nie. Dit verskyn in die uitgawe van 17 Februarie 2011. Kiek die twee ikone met jou foon om in ’n neutedop van Natasha te hoor waaroor haar nuwe boek gaan en vir 'n kykie agter die skerms tydens die fotosessie.