“Ek is dankbaar. Die loopbaan waarvan ek gedroom het, het ek dubbel en dwars gekry, maar die tyd is verskriklik min. Ek verteer nou nog goed wat ek op universiteit geëet het,” het die flambojante kunstenaar onlangs aan Huisgenoot vertel.

nataniel5

“Die grootste les wat ek geleer het, is dat jou kans op geluk afhang van hoe naby jy in jou leeftyd aan jou roeping kom. Dis vir my ’n voorreg om elke oggend wakker te word en te weet niemand gaan vir my voorskryf wat om te doen nie, dat ek ’n verskriklike vol dag voor my het en dat 99 persent van wat ek doen, my gelukkig maak.”

In ’n onderhoud verlede jaar met Huisgenoot het Nataniël vertel sy 30 jaar in die vermaakbedryf het nie maklik begin nie.

“Ek was nooit mooi of cute nie; ek het nie rondgeloop met ’n six pack of vierkantige tieties nie. Elke deur wat oopgegaan het, het ek oopgebid of oopgeskop . . .”

Om hierdie mylpaal te vier, toer Nataniël vanjaar deur die land met ’n nuwe produksie wat saamgestel is uit ou en nuwe tekste. Tussendeur die vertellings sing hy dan ook van die gewildste liedjies wat hy die afgelope drie dekades gesing het.

Nataniël is verlede jaar tydens Huisgenoot se eeufeesjaar met ons spesiale Tempo-toekenning as Afrikaanse erfenislater vereer.

’n Eerbewys of prys beteken niks as dit nie iemand anders inspireer nie, het dié man wat kleintyd nooit werklik ingepas het nie, toe gesê. Vir sulke mense wil hy met daardie eerbewys ’n inspirasie wees.

“Iewers is ’n vreemde seuntjie met stemme in sy kop en talent in sy lyf, maar hy voel verdwaas en verstote, want sy pa gooi van skok op elke keer dat hy om die hoek kom. Maar hy gaan nou hoor van hierdie ding en dat ek gesê het: Hou net aan met wat jy doen; daar kom ’n dag dat mense gaan betaal om daarna te kyk.”

Sy ouma Maria Burger van Wellington in die Boland was toe hy op skool was sy inspirasie.

Sy het vir mense gesê: “Los die kind. Ouma weet glad nie wat hy doen nie, maar dis fantasties!”

Hy onthou dié ouma van hom as iemand wat vrede met die wêreld gehad het. “Ek is vandag net so. As ’n vliegtuig deur die dak val, eet ons eers klaar voor ons skrik.”

Hierdie uithaler-sjef en kabaretster is ook bekend vir sy advies oor etiket. Hier is van die raad wat al met Huisgenoot se lesers gedeel het:

• Om ’n nuwe jaar dronk of gillend met klipharde musiek en klappers binne te gaan, is ondenkbaar. ’n Barbaarse geleentheid met 600 blikkies bier is outyds. Drink versigtig; mense onthou jare lank hoe simpel jy was. Hou op raas. Die res van die buurt dink nie jy is oulik nie.

• Mense wat eers sorgvuldig aan hul fynproewerswyn ruik voor hulle ’n slukkie daarvan neem: Om al snuffelend wyn te drink is eintlik aansitterig. As jy eenvoudig jou glasie wyn drink en geniet, is jy stylvol.

• Volwassenes wat met vuil of gekreukelde klere of kaalvoet in die openbaar verskyn, verlaag almal se lewensgehalte.

• Geen man behoort in ’n kortbroek en sandale by ’n sosiale geleentheid vir volwassenes op te daag nie. Dis drag vir kleuters!

• Dis onnodig om kliphard en skreeuend vir elke grappie te lag – ons weet dan dadelik jy voel afgeskeep of verwaarloos of seksueel gefrustreerd.

• Jy hoef nie alles te kritiseer wat jy sien nie. As jy nie ’n bydrae kan lewer nie, bly liewer net stil.