Die wêreldberoemde Britse sjef Gordon Ramsay, wat berug is om sy vuilbekkigheid, verskyn saam met ons eie meesterkok Nataniël in ’n nuwe Checkers-advertensie.

Daar is beslis spanning wanneer hierdie twee groot persoonlikhede in een kombuis moet saamwerk. “Hy is nie daaraan gewoond om die aandag te deel nie en ek beslis ook nie,” sê Nataniël. Hy voeg by hy was net daar “om seker te maak Gordon vloek nie te veel nie. Dit was asof ons twee sirkusleeus is wat onseker is wie deur die ring gaan spring en wie die ander een gaan opvreet.”

Ager die skerms het die twee goed oor die weg gekom. Dit lyk of Gordon sukkel om Nataniël se naam uit te spreek, maar hy sê dit was lekker om saam met die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidster te werk. “Hy is deksels snaaks,” sê Gordon. “Hy is baie spitsvondig en eienaardig. Hy het op ’n manier daardie . . . individuele voorkoms,” voeg hy met ’n vonkeling in die oog by.

-Kirstin Buick