Natalie Portman het in Buckingham-paleis voor prins Charles ’n tafel aan die brand gesteek.

Die ster van Thor: The Dark World erken sy het tydens ’n liefdadigheidsgeleentheid ten bate van ballet in die Londense paleis per ongeluk ’n tafel laat vlam vat toe sy haar program op ’n brandende kers neersit.

Sy het op die The Late Show aan David Letterman verduidelik: “Ons hou stil en daar is al hierdie lords en ladies, die deftige mense in Engeland. Ons stap in en hulle hou vir ons ’n pragtige uitvoering . . . Prins Charles praat . . . Agterna het hulle ’n lang dinee vir sowat 200 mense by ’n baie lang tafel en hulle skei die paartjies.

“My man sit aan die een punt en ek aan die ander. Prins Charles sit skuins oorkant my en ek sit langs al hierdie lords en ladies.

“Die ou langs my is baie aangenaam . . . ek gesels met hom . . . en ewe skielik kyk hy oor my skouer, sê ‘aa’ en kyk terug . . . en die tafel was aan die brand.”

Die 32-jarige aktrise het gebloos toe van die koninklike wagte die vuur onder bedwang moes bring, terwyl die res van die gaste dit met bekers water probeer blus het.