Die skrywer Karin Brynard het Maandag bewys dat sy waarlik ’n hart vir al wat leef en beef het, nadat sy ’n muis uit 'n toilet gevis, laat rus en boonop kos gegee het.

Haar man, Rien van Gils, of Hollie soos sy liefderik na dié Hollander verwys, is Maandagoggend toilet toe op die gasteplaas Langfontein in die Kamdeboo naby Graaff-Reinet, toe Karin ’n benoude geroep van hom af hoor.

Karin 1

“Hy is baie ouer as ek; in sy 80’s! Synde ’n Amsterdammer van geboorte, is hy grillerig vir wilde goed. Ek moet altyd die spinnekoppe en ander ongediertes uit die huis kry.

“Eers kon ek nie mooi uitmaak wat vir ’n ding dryf daaronder in die spoelbak nie – dalk het die toilet nie goed gespoel ná die vorige gebruiker nie (ai, liewe land). Toe ek mooi kyk, sien ek dis omtrent net sy neus wat bo die water uitsteek. Dilemma: Leef hy of nie? En wat dan?

Karin 6

“Ek dag toe: Trek maar, hy lyk dooierig. En hy’s ’n stouterd, maar jis! Ek kyk naby en stip; sien daai neuspunt bo die water . . . hy sou mos anders gedryf het as hy dood was; op sy rug of so. Desperaat, wat nou? Sê nou ek kry hom uit en hy spring. My hart . . .

“Toe kry ek die soplepel-gedagte. En ons maak die badkamervenster oop. Muis bly sit in die lepel; hy spring nie. Ek skep hom in ’n plastiekkommetjie en haal hom uit, maar hy beweeg traag. Dis toe dat ek besef hy moet koud en uitgeput wees, want hy roei en spartel dalk al sedert ounag daar in die pot. En toe ek die nat snorre so bekyk en die bibberende ou bleek muishandjies, verkrummel my hart heeltemal en bou ek maar vir hom ’n broeikas uit ’n Tupperware-bak en toiletpapier.”

Karin 2

Karin se goedhartigheid het nie hier opgehou nie. Sy besluit toe om hom sommer 'n bietjie brood en kaas as regmaker te gee. “Ek los hom dat hy my nie sien nie (ek lyk mos maar self sleg met slaaphare en in my perjakkies). En toe ek ’n uur later weer gaan kyk, is die regmaker-brekfis weg en die genieter ook skoonveld.

Is jy dan nie bang vir ’n muis nie, Karin? “Ja, hulle is baie grillerig.”

Ons sou dit nooit kon raai nie . . .