En as jy sukkel om ’n boek te kies, kyk hier watter vyf boeke beveel Henriëtte Loubser, Huisgenoot se redakteur, en Elna van der Merwe, Huisgenoot se boekeredakteur, aan:

Henriëtte sê

Ek beveel hierdie 5 boeke aan:

  1. ’n Blywende Vreugde: Briewe van Audrey Blignaut – Audrey was so ’n karakter en jy leer haar ken deur die briewe wat sy aan haar kinders en vriende geskryf het. Ek kon die boek nie neersit nie. Dit was glad nie wat ek verwag het nie.
  2. Die Blou van Onthou deur Marita van der Vyver – Dis die boek wat ek op die oomblik lees.
  3. Pride and Prejudice deur Jane Austen – Dis my gunsteling-boek van alle tye. Ek het die BBC-minireeks op video en DVD, ek het twee boeke (die eerste een se blaaie het uitmekaar begin val) en ’n Kindle-weergawe!
  4. The Hours deur Michael Cunningham – Dis meesterlik geskryf en die fliek het reg daaraan laat geskied.
  5. Weerkaatsings: ’n Sprokie deur Eleanor Baker – Ek is maar ’n “sucker” vir ’n slim liefdesverhaal.

Elna sê:

Afrikaanse boeke wat ek onlangs gelees het en wat ek kan aanbeveel as goeie ontspanning is Klara deur Mariël le Roux, Elke Dogter Het ’n Ma deur Madeleine Volschenk en Skrapnel deur Irma Venter. Dan is ek ’n laatkommer wat The Book Thief deur Markus Zusak nou eers beetgekry het en heeltemal daardeur ingesluk is. En as ’n geskenk aan myself en omdat ek ’n Darth Vader-bewonderaar is, het ek Vader’s Little Princess en Darth Vader and Son deur Jeffrey Brown ten duurste aangeskaf om my innerlike af-heid te voed.

Hoe sou jou lysie lyk? Lekker lees!

- Suzaan Hauman