“Moenie die horries kry nie, maar jou sterreteken het dalk verander.”

’n Opskrif soos daardie gaan beslis aandag trek – en in hierdie geval het dit ook.

Die tydskrif het hierdie nuwe stel astrologiese datums – met selfs ’n 13de teken daarby! - gepubliseer en vir NASA erkenning gegee:

Steenbok: 20 Jan - 16 Feb

Waterdraer: 16 Feb – 11 Maart

Vis: 11 Maart – 18 April

Ram: 18 April – 13 Mei

Bul: 13 Mei – 21 Junie

Tweeling: 21 Junie – 20 Julie

Kreef: 20 Julie – 10 Aug

Leeu: 10 Aug – 16 Sept

Maagd: 16 Sept – 30 Okt

Weegskaal: 30 Okt – 23 Nov

Skerpioen: 23 Nov – 29 Nov

Slangdraer: 29 Nov – 17 Des

Boogskutter: 17 Des – 20 Jan

NASA het egter dadelik kommentaar gelewer op die artikel en beklemtoon dat “astrologie nie dieselfde ding is as astronomie nie”. Volgens Gizmodo.com het alles begin met “’n bisarre misinterpretasie van ’n opvoedkundige bladsy wat die agentskap vir kinders opgestel het.”

Op dié webblad verduidelik die ruimteagentskap dat die sterretekens 3 000 jaar gelede opgestel is deur die Babiloniërs wat hulself aan die konstellasies wat hulle bo hulle gesien het, wou koppel.

In die eeue daarna het die posisie van daardie konstellasies egter geskuif as gevolg van ’n ligte wankeling in die Aarde se as.

Daarom: “Toe die Babiloniërs die eerste keer die 12 sterretekens van die Zodiac uitgevind het, het ’n verjaardag tussen ongeveer 23 Julie en 22 Augustus beteken dat jy onder die teken van die Leeu gebore is. Nou, 3 000 jaar later, het die uitspansel geskuif omdat die aarde se as (noordpool) nie meer in dieselfde rigting wys nie.”

Met ander woorde: “Mimi se verjaardag op 4 Augustus sal nou beteken dat sy “onder” die Kreef-teken (een teken “vroeër”) gebore is en nie onder die teken van die Leeu nie”

En vandaar die internasionale astrologiese ineenstorting.

Maar, soos NASA se woordvoerder, Dwayne Brown, egter byvoeg: “Ons het geen sterretekens verander nie, ons het net die somme gemaak.”

“Die ‘Space Place’-artikel het gegaan oor die feit dat astrologie nie dieselfde ding as astronomie is nie. Dit het gegaan oor hoe dit ’n erfstuk uit die antieke geskiedenis is en hoe dit die wetenskap en wiskunde uitwys wat voortgespruit het uit observasies van die nagtelike hemelruim."

Bronne: Cosmo.co.uk, Gizmodo, LiveScience