Naomi Watts wou die rol van prinses Diana vertolk omdat sy so ’n “ingewikkelde” mens was.

Die 44-jarige aktrise vertolk die rol van die oorlede koninklike in die nuwe rolprent Diana, wat gegrond is op die roman Diana: Her Last Love. Dit handel oor haar laaste twee lewensjare, insluitende haar romanse met dr. Hasnat Khan.

Naomi is twee keer gevra om die rol te vertolk en het eers daarna toegestem omdat Diana, die ma van prins William en Harry, vir haar so fassinerend is.

Sy het Donderdag tydens die wêreldpremière van die rolprent in die Odeon-bioskoop in Londen gesê: “Ek wil hê dat enige vrou wat ek (op die skerm) aanneem, alles moet wees. Vroue wat ingewikkeld, vol teenstrydighede, prettig, intelligent, maar terselfdertyd ook broos is, fassineer my.

“Iemand wat iets beleef, ’n tipe transformasie, en dis beslis wat hierdie storie is.”

Naomi het baie navorsing gedoen oor Diana, die gewese vrou van prins Charles wat in 1997 tragies in ’n motorongeluk gesterf het, en vir haar is sy ’n grappige en ondeunde mens.

Die Hollywood-ster was vasbeslote om daardie sy van die prinses in die rolprent uit te beeld.

Sy het aan BANG Showbiz gesê: “My navorsing het gewys Diana het ’n groot teenwoordigheid en ’n goeie humorsin gehad en was ondeund. Ek wou dit beslis in my uitbeelding wys.”

Saam met Naomi op die rooi tapyt was Naveen Andrews, wat die rol van haar minnaar dr. Khan vertolk, die regisseur, Oliver Hirschbiegel, Douglas Hodge, wat die rol vertolk van Diana se hoofbediende, Paul Burrell, en bekende gaste soos Andy Serkis.

-Bang Showbiz

Naomi ‘verlam’ haar gesig vir Di-rol

Di-fliek ‘vol foute’