Naomi Watts glo prinses Diana se nalatenskap is dat sy die Britse koningsfamilie toegankliker gemaak het.

Die 44-jarige aktrise, wat die rol van die oorlede ikoon in die nuwe biografiese rolprent Diana vertolk, glo die prinses het ’n goeie uitwerking op die koningsgesin gehad. Dis nou ten spyte daarvan dat haar en prins Charles se huwelik in Desember 1992 bitter geëindig het en dat sy tot met hul egskeiding in Augustus 1996 opslae gemaak het.

Naomi het verlede Donderdag tydens die wêreldpremière van die rolprent in die Odeon-bioskoop in Londen aan BANG Showbiz gesê: “Ek dink dat sy die koningsgesin toegankliker en mensliker gemaak het, en ek dink steeds hulle voel ongemaklik dat sy nie hier is nie.

“Hopelik sal gehore weer die emosies onthou wat hulle oor haar gehad het, en aan haar groot nalatenskap herinner word.”

Naomi glo die rolprent se klem op die laaste twee jaar van Diana se lewe voor sy in Augustus 1997 op 36 in ’n motorongeluk gesterf het, wys hoe haar lewe in ’n nagmerrie ontaard het – dit terwyl sy besig was om haarself ná ’n sprokieslewe saam met die Britse troonopvolger, weer te vind.

Sy sê: “Nadat sy van Charles geskei is en haar koninklike titel verloor het, kan ek myself voorstel dat dit moeilik moes wees om haarself te herskep, en dit het gelyk asof sy besig was om dit te doen. Ek dink dat hierdie liefdesverhaal ’n rol daarin gespeel het; om haar die vertroue te gee om dit te doen. Ten spyte van die tragiese beëindiging van haar lewe was sy beslis besig om haar hoogste potensiaal te bereik.”

Diana het die titel van haar koninklike hoogheid ná die egskeiding verloor, maar is steeds as ’n lid van die Britse koningshuis beskou. Omdat sy die ma van prins William, die tweede Britse troonopvolger, en prins Harry was, is daar na haar verwys as Diana, prinses van Wallis.

Naveen Andrews vertolk die rol van dr. Hasnat Khan met wie die prinses ’n verhouding gehad het nadat hulle mekaar in September 1995 ontmoet het.