Naomi Watts het die regterkant van haar gesig met tandestokkies verlam omdat sy haar rol in die komende biofliek Diana perfek wou vertolk.

Die 44-jarige aktrise speel die rol van die oorlede prinses van Wallis, en sy was so vasbeslote om Diana perfek uit te beeld dat sy met ’n houtstokkie in haar wang geloop het om die manier te verander waarop haar mond beweeg.

Sy het aan die tydskrif Empire gesê: “Ek wou nie net soos sy lyk nie, dit gaan ook oor haar stemtoon en die wyse waarop sy haar gesig beweeg het. Dis heeltemal die teenoorgestelde van hoe ek my gesig beweeg. Ek beweeg my gesig aan die regterkant; sy het dit links gedoen. Ek het twee weke lank met ’n tandestokkie in my mond rondgeloop om die regterkant van my gesig te verlam.”

Naomi het erken sy het ’n ruk lank gestoei met die idee om die Britse adellike te speel, want sy was bekommerd mense gaan nie van haar hou nie, of dat hulle haar gaan kritiseer oor hoe sy Diana uitbeeld.

Sy het verduidelik: “Daar is baie meer druk en baie meer vrees wat saam met daardie druk kom. Juis daaroor het ek gestoei met die besluit. Ek was bang vir al die vergelykings wat mense sou maak: nie die regte neus nie, nie lank genoeg nie, nie die regte stem nie.”