Die Republikein berig Eddie, die hoof-instrukteur van die Swakopmund-valskermklub, het Saterdag-middag meer as 3 en ’n half kilometer ver uit ’n vliegtuig geval en op die skouer van die B2-hoofpad net buite Swakopmund beland.

Wonderbaarlik was hy by sy volle bewussyn toe noodpersoneel by hom opdaag het en Eddie is dadelik na ’n plaaslike hospitaal geneem.

Die veteraanvalskermspringer, met meer as 11 500 spronge agter die blad, was besig met vryval-opleiding toe die ongeluk gebeur het.

Sy hoofvalskerm het op die regte hoogte uitgeskiet, maar wou nie ontplooi nie en hy moes dit noodgedwonge laat wegbreek. Ongelukkig vir hom het sy noodvalskerm ook gefaal om te ontplooi.

Eddie het erg verstrengel geraak in ’n sogenaamde “Romeinse kers” – wanneer die valskerm en toue in ’n lint agter die springer wapper.

Noodpersoneel het die feit dat Eddie die val van sowat 25 meter per sekonde oorleef het, toegeskryf aan sy jarelange ondervinding.

Die volle omvang van sy beserings is egter nie bekendgemaak nie.

Bron: Die Republikein