’n Gr.12-leerder in Namibië se Ohagwena-streek het ’n sim-lose selfoon uitgevind wat nie lugtyd benodig om oproepe te maak nie.

Volgens ’n berig in New Era het Simon Petrus, ’n leerder aan die Sekondêre Skool Abraham Iyambo, die selfoon gemaak met spaaronderdele van ’n foon en televisiestel.

Die toestel, kompleet met ’n liggie, waaier en plek vir ’n herlaaier, werk op krag wat verskaf word deur ’n verkoeler en kan oproepe maak na enige plek deur die gebruik van radiofrekwensies.

Die toestel, wat van ’n radiostelsel gemaak is, is geheg aan ’n boks en stel ook die gebruiker in staat om een televisiekanaal daarop te kyk.

Lees ook: Leer ken jou kind se leerstyl en speel klaar met studiekopsere

Simon, ’n ou hand wat uitvindings betref, het verlede jaar op nasionale vlak ’n goue medalje gewen vir sy uitvinding van ’n twee-in-een-masjien wat werk as saaddroeër en verkoeler.

Die skugter leerder het vertel hy het twee jaar lank aan sy uitvinding gewerk met geld wat sy werklose ouers vir hom gegee het.

Simon sê hy het die foon bedink in die hoop dat dit ’n sukses sou wees en dat hy daarop sou kon uitbrei.

Die storie is die jongste in ’n reeks innoverende projekte deur studente in dié Suider-Afrikaanse nasie.

Joshua Nghaamwa, ’n selfgeleerde uitvinder, het glo ’n satelliet geskep met dele van radio’s, selfone en ander elektronika, berig The Nambian.

Lees ook: Toets jou kind vroegtydig

Die satelliet, wat glo internetverbinding versterk, is klein genoeg om in ’n skootrekenaarsak te pas en het ’n USB-poort waarmee dit aan ’n modem, roeteerder of selfoon gekoppel kan word, wat internetspoed verhoog en sorg vir ’n beter aanlyn ervaring.

Joshua sê hy wil die toestel dwarsdeur die Afrikamark bekendstel om die inligtingskommunikasietegnologie op die vasteland ’n hupstoot te gee.

Bron: News24