Onder die 239 mense wat op die vermiste Malaysia Airlines-vlug was, tel 24 Chinese skoonskryfkunstenaars, ’n paartjie op pad terug van hul wittebrood en ’n waaghalsakteur.

Rusheng Lui (77) China:

As ’n bekende kunstenaar was hy een van die 24 skoonskryfkunstenaars wat teruggekeer het van ’n kultuuruitstalling in Kuala Lumpur, Maleisië. Hy het die dood etlike kere in sy lewe vrygespring, onder meer tydens ’n botsing tussen twee trokke en drie hartaanvalle. Hy is ook al weens politieke redes vervolg.

Ju Kun (35) China:

Kun was ’n krygskunskenner en waaghals. Hy was op pad om by sy twee kinders in Beijing te gaan kuier.

Chetana Kolekar (55) Indië:

Dit was haar eerste keer op ’n vliegtuig. Sy het saam met haar man en seun gereis om hul oudste seun se gradeplegtigheid in Beijing by te woon.

Dina Mohamed Ramli (30) Maleisië:

Dina het haar eerste huweliksherdenking gevier ’n paar dae voor sy die vlug gehaal het. Sy het saam met haar ma, suster en tante gereis.

Ruixian Zheng (42) China:

Dit was op 8 Maart haar verjaardag, dieselfde dag dat die vliegtuig vermis geraak het.

Muhammad Razahan Zamani (24) en Norli Akmar Hamid (33) Maleisië:

Die paartjie was volgens berigte op hul wittebrood. Hulle is in 2012 getroud, maar het hul vakansie uitgestel. Dit was ook die eerste keer dat die twee gevlieg het.

Paul Weeks (39) Nieu-Seeland:

Net voor hy die vlug gehaal het om in Mongolië in myne te gaan werk, het Paul sy troupand en horlosie aan sy vrou gegee om aan hul seuns te gee as iets met hom sou gebeur.

Wang Moheng (23 maande) China:

Moheng was een van die vlug se jongste passasiers. Hy was op pad huis toe nadat hy in Maleisië saam met sy ma, Jiao Weiwe (32), en sy pa, Wang Rui (35), vakansie gehou het. Twee van sy grootouers was ook op die vlug.

-Petro-Anne Vlok

Bronne: thedailybeast.com, dailymail.co.uk, bbc.com, nydailynews.com