Donderdag het navorsers bekendgemaak dat die gevreesde bakterie genetiese veranderinge, oftewel mutasies, ondergaan het. Die E. coli mcr-1 het wel reeds in Europa en China sy opwagting gemaak, maar dit het nou die eerste keer die grens na Amerika oorgesteek.

In China het dit in November 2015 waarskuwingsklokkies laat lui toe die bakterie in varke, rou varkvleis en ’n klein getal mense gevind is. In Amerika is die mutasie onlangs vir die eerste keer gevind in ’n 49-jarige pasiënt wat vir ’n blaasinfeksie behandel moes word.

Navorsers vrees dat ’n E. coli-bakterie wat die mcr-1-geen bevat, dit kan oordra na ander superkieme wat ook muteer het. Dit kan lei tot ’n ongeëwenaarde superkiem wat deur geen bekende antibakterieë bekamp sal kan word nie.

Hoekom is daar soveel kommer? Deur mutasies kan bakterieë binne twee dae ’n weerstand teen antibiotika opbou.

Dr. Tom Frieden, direkteur van die Sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming, beweer dat dit die wêreld weer sal laat terugkeer tot ’n tydperk sonder enige antibiotikas.

“Dit is ’n doodloopstraat vir antibiotikas behalwe as ons dringend optree,” het hy gesê.

Volgens Tom is dit onbekend hoe ver die mutasie reeds versprei het omdat hulle nog net die afgelope drie weke daarop begin fokus het.

Met behulp van ’n bietjie DNS (“plasmid”) (wat terloops maklik onder mekaar uitgeruil kan word) kan bakterieë die gevolge van colistien beveg.

Colistien is die allerlaaste antibiotika-uitweg wat ingespan word teen verskeie superkieme en is kwalik die ideale oplossing. Dié middel is reeds 50 jaar gelede uitgevind en is bekend daarvoor dat dit tot aansienlike nierskade by pasiënte kan lei.

Volgens ScienceDaily is die pasiënt getoets om uit te vind of colistien teen die bakterie ingespan kan word.

“Die resultate het getoon dat geen veilige dosis van die antibiotika doeltreffend sal wees vir die behandeling van die bakteriese infeksie nie.”

“Die medisynekassie is leeg vir sommige pasiënte,” is dr. Frieden se somber boodskap oor die superkiem.

Wat is E. coli?

Escherichia coli (E. coli) is ’n bakterie wat gewoonlik in die ingewande van mense en diere leef. In die meeste gevalle word E. coli as skadeloos en veel eerder as belangrik vir gesonde menslike ingewande bestempel.

Maar daar is wel sekere tipes E. coli wat jou siek kan maak en dit veroorsaak diarree en ander ongesteldhede buite jou ingewande, soos nierversaking.

Dit is gewoonlik te wyte aan besmette water of kos, of deur kontak met diere of ander mense.

Enige kos wat in aanraking kom met rou vleis, kan deur E. coli besmet word. Vars melk van die koei (as haar uier besmet is) en suiwelprodukte kan ook ’n risiko inhou.

Rou groente en vrugte wat in aanraking kom met diere se ontlasting, moet liefs goed gewas of afgespoel word voor jy dit eet.

Wanneer kraanwater van ’n onbehandelde bron kom, kan die bakterie ook so opgedoen word.

Nog ’n wenk: Maak seker jy was jou hande goed nadat jy die toilet gebruik het.

Bronne: nbcnews.com, independent.co.uk, sciencedaily.com, cdc.gov, webmd.com

Ander stories op Huisgenoot.com

Skokkende brief deur Jayde Panayiotou onthul

Kry Karen Zoid se eksklusiewe liedjie vir Huisgenoot hier!

Aktrise ‘vind haarself’ op die spoor van Bybelse gebeure

‘Bedwelmde’ skape maak amok op rustige Walliese dorpie