Die ergste hiervan was 'n gyselaarsdrama in die Bataclan-konsertsaal waar konsertgangers glo een vir een deur gewapende mans doodgeskiet is. Die Amerikaanse rockgroep Eagles of Death Metal het daar opgetree.

CNN berig daar was ses goed gekoördineerde aanvalle oor die stad wat laat Vrydag-aand begin het. Minstens agt aanvallers is dood, waarvan sewe hulself opgeblaas het.
'n Joernalis wat by die konsert in die Bataclan-konsertsaal was, het vertel "Ons het op die grond gelê om nie seer te kry nie. Daar was groot paniek. Die terroriste het vir 10 tot 15 minute op ons geskiet. Dit was 'n bloedbad." Die skietery in die konsertsaal het sowat 112 mense dood gelaat. Nog twee skietvoorvalle het terselfdertyd elders in die stad plaasgevind by restaurante en daar was ook 'n ontploffing by die Stade de France, waar 'n vriendskaplike sokkerwedstryd tussen Frankryk en Duitsland aan die gang was. Die Franse president, Francois Hollande, het intussen 'n noodtoestand verklaar. Die wedstryd is gekanselleer en die toeskouers het almal op die sportveld bymekaargekom voor die stadion ontruim is.
Frankryk het ook sy grense gesluit en millitêre personeel is regoor die hoofstad ontplooi. Die presiese aantal sterftes is nog nie bepaal nie, en dit is ook nog onseker of daar nog aanvallers op vrye voet is.
Die Britse premier David Cameron het sy skok oor die voorval op Twitter gedeel en Frankryk belowe hulle sal "enigiets doen om te help".
Die stad is ook in Maart geruk deur terreuraanvalle op die satiriese koerant Charlie Hebdo en ’n gyselaarsdrama in ’n Joodse winkel. Hoewel geen groep al verantwoordelikheid vir die aanvalle op Vrydag die 13de aanvaar het nie, het ooggetuies vertel van die aanvallers het oor Sirië en Irak gepraat.

Bronne: CNN; SkyNews; Netwerk24