Biebs en sy vriende was vroeër vandeesweek by die klub Bodi, maar is uitgeskop nadat die polisie laat weet is hy is in ’n klub vir mense 21 jaar en ouer.

Die stadsowerhede dagvaar die klubeienaars omdat hulle glo alkohol aan die jong ster verkoop het. Volgens die webtuiste TMZ.com word in die dagvaarding aangevoer: “’n Persoon onder die ouderdom van 21 jaar is sonder ’n ouer/voog bedien/toegelaat op ’n perseel.”

Justin en sy gevolg word ook spesifiek genoem. ’n Stadsamptenaar het aan die webtuiste gesê: “Die polisie het die Bodi-nagklub beboet vir die doelbewuste toelating van minderjariges in die klub. Gewoonlik sal die boete sowat $1 000 wees, maar die bedrag sal eers bepaal word nadat die saak aangehoor is en die nagklub skuldig bevind is aan ’n oortreding.”

Intussen is ’n goeie vriend van Justin, die rapper Lil Twist, vandeesweek in Kalifornië in hegtenis geneem omdat hy sowat 03:30 met Biebs se motor gejaag het. Volgens ’n verteenwoordiger van Los Angeles se distriksbalju, Steve Whitmore, het Lil Twist (20) tussen 60 en 70 mph (so 100 km/h) gery in ’n 30 mph-konstruksiesone (so 50 km/h). Die sanger het boonop ook oor ’n rooi lig gejaag. Toe hy afgetrek word, het ’n polisiebeampte glo dagga geruik en hom in hegtenis geneem omdat hy vermoedelik onder die invloed bestuur het.