Durban – ’n Agtjarige meisie is in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal in Pietermaritzburg nadat ’n nagadder haar Sondag in Northdale gepik het.

Foto ter illustrasie

Die Netcare911-woordvoerder Chris Botha sê paramedici het gejaag na die toneel toe dit aangemeld is.

“Sy het in die oprit geloop toe ’n slang haar op die voet gepik het,” sê hy.

“Paramedici het haar by die huis met swelling en pyn rondom die bytplek aangetref. ’n Buurman het die slang onder klippe gevind en dit doodgemaak.

Chris sê paramedici het die slang as ’n nagadder geïdentifiseer. Nadat hulle die kind op die toneel behandel het, is sy na ’n plaaslike hospitaal geneem.

Bron: News24