’n Nadoodse ondersoek gaan uitgevoer word om te bepaal wat die dood veroorsaak het van ’n 11-jarige meisie wie se lyk in die huis van ’n familielid in die Paarl gekry is, het die Wes-Kaapse polisie Woensdag gesê.

Shamonique Claasen is Maandagaand in ’n kombers toegedraai dood onder ’n bed gevind, het kapt. FC van Wyk gesê.

Haar ma het haar Sondag by die polisiekantoor in Paarl-Oos as vermis aangemeld.

Shamonique se niggie Elaine Williams het aan IOL gesê die familie en bure het Saterdag ’n desperate soektog na die gr. 5-leerder van stapel gestuur toe haar ma haar nie kon opspoor nie.

Sondag sou Shamonique se verjaardag gewees het. Op hierdie dag het haar skool, die Laerskool Dalweide, sy deure oopgemaak om te dien as basis vir die soektog.

“Die polisie het die span bygestaan, tesame met bure en onderwysers van haar skool wat pamflette uitgedeel het. Ek het Facebook gebruik om meer mense te bereik,” het ’n hoogs ontstelde Elaine gesê.

’n Familielid het die volgende dag “’n vreemde reuk” by Shamonique se oom se huis opgemerk en op haar lyk afgekom.

“Hulle het haar lyk onder ’n bed gevind, toegedraai in ’n swart sak en vasgebind met ysterdraad.”

’n Drie-en-twintigjarige verdagte is vir ondervraging ingeneem, het FC gesê.

Haar skool het berading vir haar klasmaats gereël.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com

Sal suikerbelasting Suid-Afrikaners die vet laat afskud?

Ontmoet Gimo, die internet se grootste (en oulikste!) katsensasie sedert Grumpy Cat!

Kyk: Vrou wat met vals huweliksaanbod uitgevang is, neem soete wraak op kêrel

Kyk: So lyk nuwe Kaapse hotel waar jy tot R140 000 ’n nag moet opdok!

Kyk: Ontstellende video wys hoe kleuter uit bewegende motor val en net weer opstaan