Familielede van MH370-passasiers het die beleërde Malaysia Airlines gekritiseer nadat ’n beampte blykbaar gesê het amptenare sal ’n datum vasstel waarop die vliegtuig as “verlore” verklaar sal word; ’n bron van die bedryf sê die aankondiging sal die soektog beëindig.

Sowel Malaysia Airlines as beamptes in Australië – wat die soektog na die vliegtuig aan hul weskus lei – het die lugredery se kommersiële direkteur, Hugh Dunleavy, se opmerkings ontken. Maar Voice370, ’n vereniging van die slagoffers se familielede, het Maandag in ’n verklaring gesê die berig het hulle “verbyster”.
'So ’n eensydige aankondiging veroorsaak intense angs.'

“So ’n eensydige aankondiging veroorsaak intense angs en verwarring by familielede en maak dat ons moed verloor met die soektog,” het hulle gesê.

’n Artikel in die dagblad New Zealand Herald wat Hugh aanhaal, sê owerhede beplan op ’n datum – waarskynlik einde vanjaar – waarop hulle die verlies aankondig van die Boeing 777, wat op 8 Maart met 239 mense aan boord verdwyn het.

“Ons het nie ’n finale datum nie, maar sodra ons ’n amptelike verlies opgeneem het, kan ons met naasbestaandes werk aan die volle vergoeding vir daardie families,” het Hugh gesê.

’n Bron het gesê sodra die vliegtuig as verlore verklaar word, sal die soektog stopgesit word.

“Daar is genoem dat die soektog tot dusver vergeefs is en dit sal waarskynlik niks oplewer nie,” het hy gesê.

Malaysia Airlines het Maandag in ’n verklaring gesê hulle distansieer hulle van Hugh se kommentaar omdat dit sy persoonlike mening is en “voortdurende soek- en verhalingsbedrywighede sal aanhou en nie gestaak word nie”.

Hulle het voorts gesê net die Joint Agency Coordination Centre in Australië sal inligting rakende MH370 oordra.

Beamptes daar het Dinsdag gesê Hugh se kommentaar is “baie ontstellend vir die families en geliefdes van MH370 se passasiers en bemanning” en het hulle ook tot die soektog gewy.

Die vliegtuig was onderweg van Kuala Lumpur na Beijing toe dit verdwyn; dit is een van die wêreld se grootste lugvaart-raaisels.

Australië lei die soektog na die vliegtuig, wat glo in die suide van die Indiese Oseaan aan die Australiese weskus neergestort het.

’n Paar slagoffers se familielede beskuldig die Maleisiese regering en lugredery van brouwerk, wat hulle streng ontken.

’n Maleisiese familie het die regering en lugredery verlede maand van nalatigheid aangekla in ’n saak wat glo die eerste oor die vliegramp is.

- Sapa