Die legendariese losskakel het 179 wedstryde vir die destydse Noord-Transvaal (Blou Bulle) gespeel en 119 vir die Italiaanse klub Rovigo.

Hy het van 1980 tot ’92 tydens Suid-Afrika se sportisolasiedae ’n skamele 28 toetse vir die Springbokke gespeel.

Naas het ook ’n rukkie Amerikaanse voetbal vir die Dallas Cowboys gespeel terwyl hy in rugby se amateur-era gespeel het toe spelers nie ’n salaris verdien het nie.

Volgens Netwerk24 het Naas Woensdag by ’n kerkseminaar in die Atterbury-teater in Pretoria gepraat.

Hy is oor sy speeldae uitgevra en het ’n paar interessante opmerkings gemaak.

“Die tyd toe ek gespeel het, verskil hemelsbreed van vandag se sport. In my tyd het ons R5 vir ’n amptelike wedstryd vir Noord-Transvaal gekry.”

Toe hoor ons eendag dit word tot R10 verhoog.

“Ek was taamlik jonk, maar het opgemerk as hulle my R5 of R10 kon betaal, kon hulle netsowel R100 000 betaal. Net daarna het die voorsitter (van Noord-Transvaal) besluit ons sal weer net R5 kry.”

Naas het gesê hy kon nooit verstaan waarom dit ’n amateursport was nie.

“Onthou, ons is R5 betaal. Ons het niemand iets geskuld nie. Ander mense het met hul talente geld verdien. Hoekom mag ’n sakeman betaal word vir sy werk? Ek het ’n sporttalent gehad. Hoekom mag ek nie met my talent geld verdien het nie? Ek het gesê ek is lojaal aan watter span se trui ek ook al aantrek.”

Naas (57) is deesdae ’n rugbykenner vir die betaalkanaal SuperSport.

Bron: Sport24