Die dokter wat gehelp het dat Karen Botha, vrou van die rugbykommentator Naas Botha, se pyn byna iets van die verlede is, word vir miljoene deur twee vroue gedagvaar.

[caption id="attachment_140089" align="alignnone" width="600"]Naas en sy vrou, Karen. (Foto's Papi Moraki en Fani Mahutsi) Naas en sy vrou, Karen. (Foto's Papi Moraki en Fani Mahutsi)[/caption]

Dr. Russell Raath, spesialisnarkotiseur by die pynkliniek van die Netcare Jakaranda-hospitaal in Pretoria, word deur Salomé Janse van Rensburg (40) van Eldoraigne en Beatrix van der Merwe (53) van Centurion gedagvaar.

Salomé ly aan onvolledige tetraplegie, verlamming wat al vier ledemate aantas. Sy het rehabilitasie in die Muelmed-hospitaal in Pretoria ontvang. Sy kan wel loop en trap klim – onder toesig – maar haar spierkrag is swak en val gereeld.

Sy sê telefonies aan Huisgenoot sy was voorheen baie aktief en het korfbal gespeel. Maar ná die pynbehandeling is dinge baie anders. “Ek kan nie meer ’n koppie oplig sonder dat ek daarvoor kyk nie, anders gooi ek die inhoud uit.”

Dit is vir haar baie frustrerend. “Maar ek beskou myself as ’n wonderwerk, want ’n span neuroloë het gesê ek gaan nie weer loop nie.”

Salomé was in 2013 by Russell oor ernstige hoofpyn. ’n Risotomie, gewoonlik ’n klein prosedure, is op haar nekwerwels gedoen om die pyn te verlig.“Ek het nie geweet ek gaan vir ’n risotomie nie," sê sy. Volgens haar is die woord risotomie nooit eens gebruik nie; daar is bloot van 'n "vinnige, tweeuur prosedure" gepraat waarin die senuwee doodgespuit word.

Sy beweer haar rugmurg is tydens die operasie raakgesteek en beskadig. Russell ontken dit ten sterkste in sy verweerskrif. Salomé het Russell op 25 April vir R5,1 miljoen gedagvaar.

Beatrix se lewe is ook onherroeplik verander ná die inspuitings. Sy het Russell in Junie vir R4,6 miljoen gedagvaar.

Sy beweer sy het weens die prosedure ’n sindroom genaamd Brown-Sequard opgedoen, wat gelei het tot hemiplegie (verlamming of sekere mate van swakheid aan die een kant) aan die regterkant van haar lyf. “Ek het deesdae baie meer pyn as voor die prosedure.

“Ek het beplan wanneer ek op 63 aftree, gaan ek met my annuïteitgeld by die see vakansie hou. “Maar nou sal ek nie kan nie, want ek kan glad nie op sand of gras loop nie. My linkervoet brand en gloei die hele tyd.”

Sy sê voor die inspuitings het sy pyn ervaar, maar nie naastenby soos nou nie. “Toe ek vir die prosedure gaan, het ek gedink ek is dieselfde middag al by die huis, maar ek is op 10 Julie (2014) vir die behandeling na ’n dagkliniek en eers op 16 Oktober uit die hospitaal ontslaan waarheen ek ná die prosedure geneem is.”

Sy is by die Muelmed-hospitaal in Pretoria weer leer sit voor sy met ’n loopring begin loop het. Daarna het haar swaer haar met rehabilitasie gehelp.

Karen beskryf Russell egter as ’n uitmuntende dokter. “Ek ken nou nie die agtergrond van enige van die pasiënte nie, maar dit is dalk twee of drie wat ’n bohaai maak. Hy het duisende pasiënte.” Sy beskryf hom as ’n “ongelooflik slim ou en goeie dokter. Hy het my lewe verander.”

Die voormalige Springbok-verspringatleet, by wie Crohn se siekte aan die einde van 2007 en rumatiese artritis aan die begin van 2008 gediagnoseer is, sê daar is “soveel goeie goed” (oor Russell) waaroor niemand praat nie.

“ ’n Mens weet nie wat presies die situasie (met die twee vroue) is nie, maar ek sal hom 120 persent vir iemand aanbeveel. Hy ken sy veld beter as enigiemand anders in Suid-Afrika.”

Sy sê ná Huisgenoot se artikel vanjaar (Nou beheer ék die pyn, 17 Maart) het soveel mense al vir haar boodskappe op Facebook gestuur. “Ek het nog nie met een mens gepraat wat nie met lof van hom praat nie,” sê sy.

Dr. Russell Raath het by navraag laat weet hy gaan nie “net ’n paar gedagtes” oor die aangeleentheid as kommentaar lewer nie en dat Huisgenoot ’n afspraak met hom moet maak om hom in persoon te kom sien.

Huisgenoot het hom toe verdere tyd gegee om kommentaar te lewer. Dr. Raath het ’n paar dae later aangedui hy het die saak met sy prokureurs bespreek.

“Na ’n lang gesprek was ons besluit so: Ons is besig met ons eie ondersoek wat nog ’n paar dae of ’n week of twee sal neem. Sodra ons klaar is daarmee, sal ons met graagte met Huisgenoot vinnig daarna ’n onderhoud wil voer, maar ’n vollledige, ordentlike onderhoud/bespreking van aangesig tot aangesig.”

Hy het aangedui Huisgenoot kan sy kantoor oor tien dae skakel om ’n afspraak te maak.