[caption id="attachment_129142" align="alignnone" width="600"]Naas Botha is gesekwestreer. Foto: Fani Mahuntsi Naas Botha is gesekwestreer. Foto: Fani Mahuntsi[/caption]

Naas Botha is Woensdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria finaal gesekwestreer weens uitstaande huisleningskuld.

Dit is net agt maande nadat sy vrou, die voormalige Springbokatleet Karen Botha, in dieselfde hof gesekwestreer is – ook weens dieselfde uitstaande huisleningskuld.

Lees ook: Ons het R5 per wedstryd verdien – Naas Botha

Nadat Nedbank nie die geld by Karen kon terugkry vir ’n lening wat hulle aan haar toegestaan het in Desember 2009 vir ’n huis in Royal Chalicestraat in die luukse Mooikloof-landgoed in die ooste van Pretoria nie, het Nedbank ’n geding teen Naas ingestel omdat hy vir Karen borg geteken het.

Die egpaar het die huis al verkoop, maar die verkoopprys was nie genoeg om die uitstaande skuld aan Nedbank terug te betaal nie.

In Februarie vanjaar het hulle Nedbank nog R1 152 871 geskuld nadat hulle al ’n paar jaar lank sukkel om die paaiement op die huis by te bring.

Danie Potgieter, ’n prokureur van Centurion wat in sekwestrasie spesialiseer, het vroeër aan Huisgenoot gesê wanneer die bank nie daarin slaag om sy geld terug te kry nie en hy vermoed ongerymdhede, doen hy aansoek vir ’n sekwestrasiebevel.

“In 99 persent van gevalle word ’n voorlopige sekwestrasiebevel finaal gemaak,” sê Danie.

Naas is reeds verlede maand voorlopig gesekwestreer. Hy het tot Woensdag gehad om die hof redes te gee waarom die bevel nie finaal gemaak moet word nie, maar hy het nie.

Noudat die bevel finaal gemaak is, word ’n kurator deur die meester van die hooggeregshof aangestel wat die skuldenaar se finansies ondersoek. Hy sal met al die skuldeisers vergader en dan met ’n plan vorendag kom om almal minstens 20c vir elke rand te betaal.

Nadat die kurator sy ondersoek gedoen het, wat tussen ’n jaar en twee jaar kan duur, kan hy van jou bates verkoop om jou skuldeisers te betaal.

As jy gesekwestreer word, word jou naam by kredietburo’s aangemeld. Jy mag kragtens wet skuld maak van R100. As dit meer as R100 is, moet jy die mens wat die geld vir jou leen, inlig dat jy gesekwestreer is, anders kan jy strafregtelik vervolg word en vir ’n jaar tronk toe gaan.