Dis nie ongewoon om naar te voel terwyl jy na 3D-rolprente kyk nie, veral nie as jy ’n tiener is nie.

Navorsing toon die truuks wat 3D-flieks op die oë uithaal, veroorsaak dikwels duiseligheid, hoofpyne en naarheid by jong volwassenes.

Die navorsing deur die Pacific-universiteitskollege van Optometrie in Amerika, toon meer as 20 persent van tieners ervaar weens 3D-beelde disoriëntasie, duiseligheid, naarheid en hoofpyne.

“Dit is ’n visuele uitdaging om na 3D-rolprente te kyk omdat die oë moet aanpas by die nabyheid van die skerm en die 3D-beelde wat lyk of dit ver is,” verduidelik dr. Shun-Nan Yang, die hoofnavorser.

Tieners word meer as volwassenes aangetas omdat hul oë gewoonlik beter is en hulle hulle meer inleef in die fliek.

(Foto: The Bigger Picture)