Huisgenoot het Sondag berig die lyk van ’n jong man is langs die N14-hoofweg in Centurion deur ’n verbygaande motoris gevind.

[caption id="attachment_164840" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Dit het intussen aan die lig gekom die jong man se naam is Ruan Viljoen (18).

Ruan het in 2016 aan Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer.

Volgens ER24 se woordvoerder, Russel Meiring, was paramedici Sondag op pad terug na hul hoofwartier toe hulle ’n geparkeerde motor langs die hoofweg aantref.

’n Verbyganger het toe reeds op Ruan se lyk, ’n paar honderd meter vanaf sy eie motor, afgekom.

“Die man het talle beserings gehad en geen teken van lewe gewys nie,” het Russel gesê.

Ruan se pa, Sergei Greyvenstein, het Maandag op Facebook sy hartseer oor sy seun se skielike dood gedeel. "Gaan jou mis, my seun. Jy is en was my alles. God het jou vir my geleen sodat ek kan verstaan hoe om onvoorwaardelik lief te hê. Jy het my elke dag so trots gemaak."

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek uitgevoer gaan word.

Intussen stroom woorde van medelye in ná die dood van die 18-jarige.

"Met ’n swaar hart en bloedrooi oë dink ek terug aan elke liewe oomblik waartydens jy die hoogtepunt van my dag was," skryf Ruan se vriend Erich Swanepoel op Facebook. "My broer, dankie dat jy my gehelp het om die mens te wees wat ek is; dankie vir die laat aande in die koshuis en die duisende herinneringe! Jy sal nooit vergeet word nie, vriend.

"Ek is ontsettend lief vir jou."

Volgens die Centurion Record het die nadoodse ondersoek getoon dat Ruan se nek en rug gebreek is en dat hy op slag gedood is. Die vermoede bestaan dat hy deur 'n silwerkleurige motor getref is.