Die Pretoriase polisie het Dinsdagoggend die naam van die oorledene bekendgemaak nadat sy naasbestaandes van sy dood ingelig is.

Iphraim Tshabalala (24) het die Nkwe-oord in Tierpoort Saterdag saam met vriende besoek.

Volgens kapt. Marissa van der Merwe het Iphraim, oorspronklik van Soshanguve, noord van Pretoria, en ’n vriend Saterdagmiddag omstreeks 14:00 van ’n rots in ’n natuurlike poel ingeduik.

“Die twee vriende het vermoedelik teen mekaar vasgeduik. Terwyl die oorledene onder die water was, het hy waarskynlik ’n rots getref,” sê Marissa.

“Die oorledene se liggaam was redelik diep in die poel.”

Iphraim se liggaam is kort ná 16:00 deur die duikers uit die poel gehaal.

Marissa sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen om te bepaal presies wat gebeur het. In dié stadium word dit as ’n verdrinking hanteer.