“Hy was baie gewild en ons is hartseer en geskok oor sy dood.” So het die Haythorne Sekondêre Skool van Pietermaritzburg Donderdag op hul Facebook-blad hulde gebring aan die gr. 11-leerder wat Woensdagaand gesterf het nadat hy op die rugbyveld inmekaargesak het.

Awande Mkhize (16) word deur talle op die skool se Facebook-blad as ’n aangename jong seun beskryf. Alec Green beskryf hom as ’n goeie ambassadeur vir sy gesin en dat hy altyd vriendelik en goed gemanierd opgetree het.

Keegan Braithwaite Cooper sê hy het Awande in ’n stadium afgerig en hy was ’n toegewyde outjie wat regtig gek was oor sport.

Raymond Easthorpe het Awande ook afgerig. Hy sê die seun was altyd eerste by die oefensessies en het altyd sy beste gegee. “Jy moes net van hom hou vanweë sy aangename geaardheid,” het hy gesê. Hy het genoem dat Awanda baie potensiaal gehad het om ’n goeie (rugby)speler te word.

Die 16-jarige het tydens ’n rugby-oefening by die Hoërskool Alexandra inmekaargesak, sê die ER24-woordvoerder Annine Dormehl.

Paramedici het kardiopulmonêre resussitasie (KPR) uitgevoer en hom aan ’n ventilator gekoppel om hom hospitaal toe te neem. By die hospitaal het dokters KPR voortgesit, maar die seun kon nie bygebring word nie. Hy is om sesuur dood verklaar.